Afrika-leiers versoek korter begrafnisse

Tradisionele- en kerkleiers versoek dat Afrika-begrafnisse korter gemaak word.

ʼn Groep leiers van die Oos-Kaap hou vandeesweek ʼn seminaar om te bespreek hoe begrafnisse korter en goedkoper gemaak kan word, het die Dispatch Online berig.

“Mense maak van begrafnisse gebruik om te spog, van die kis tot wat familielede aantrek. Dit is hartseer om te sien hoe ons mense sulke goed doen, ons moet dié neiging stopsit,” het biskop Makhosi Ngcoza, wat die seminaar reël, gesê.

“Ons moet nie verwag dat mense begrafnisse bywoon wat van 09:00 tot 15:00 aangaan nie,” het hy gesê.

Volgens Ngcoza moet begrafnisse nie langer as twee ure duur nie, en moet die hoeveelheid mense wat by die geleentheid praat, beperk word.

Nkosi Ngangomhlaba Matanzima, die Oos-Kaapse voorsitter van die Huis van Tradisionele Leiers, het gesê in die verlede was begrafnisse kort en families het nie baie geld daarop spandeer nie.

“Daar was gewoonlik net drie mense wat by begrafnisse gepraat het. Een sou die mense inlig oor die aard van die dood, die tweede sou roubeklaers bemoedig het, en die laaste spreker sou almal bedank wat die familie bygestaan het sedert die sterfte,” het Matanzima gesê.

Die seminaar skop Woensdag af.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.