Afrikaans se status as amptelike taal bedreig

Die voorgestelde Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale kan Afrikaans se status as amptelike taal in nasionale staatsdepartement bedreig indien dié wetgewing aanvaar word, het Beeld vandag berig.

Volgens die wetgewing moet staatsdepartemente en nasionale entiteite minstens drie tale gebruik om sake te doen of wanneer hulle dienste aan die publiek lewer. Twee van die tale moet inheemse tale wees wat nie voorheen bevoordeel is nie. Die wetgewing sluit kommunikasie met die publiek, amptelike kennisgewings, staatspublikasies en kommunikasie binne en tussen departemente in. Engels en Afrikaans word beskou as tale wat voorheen bevoordeel is. ʼn Staatsdepartement sal dus Engels of Afrikaans en twee ander benadeelde Afrika-tale in hul kommunikasie moet gebruik. Die parlementêre portefeuljekomitee oor kuns en kultuur besluit tans of dié wetgewing aanvaar sal word. Die Demokratiese Alliansie het gister aangedui dat hy regsadvies sal inwin. Me. Thandi Sunduza, ANC-voorsitter van die komitee het al verskeie kere haar irritasie uitgespreek oor staatsdepartemente wat hoofsaaklik Engels gebruik terwyl net 8% van die bevolking dit praat. “So wat doen ons nou met Afrikaans? Ons wil juis ook probeer om ons ander Afrika-tale te bevorder,” het Sunduza gesê.

Die komitee sal na verwagting op 15 Februarie vergader om die wetsontwerp te debatteer. Intussen moet die departement van kuns en kultuur seker maak dat die wetsontwerp aan die bepalings van die Grondwet voldoen.

Lees die oorspronklike artikel op Beeld hier.
Lees ook vandag Herman Toerien se bydrae: Nuuskommentaar: Afrikaans en sy toekoms

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.