Afrikaans vaar die strate in

 

Een van die “bewegende woordeboeke”.

Jy kan een van die dae jou Afrikaanse woordeskat uitbrei terwyl jy in ʼn verkeersknoop vassit deur na die motor langs jou te kyk.

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Borg ʼn Woord-projek gee aan enigiemand die geleentheid om ʼn Afrikaanse woord te borg teen R100, of eksklusief te borg teen R5 000. Mannie Wigget, die handelaarshoof van Group 1 Nissan in Stellenbosch, het egter besluit om ondersteuning vir dié projek na ʼn volgende vlak te neem. Wanneer iemand ʼn Nissan Micra koop, borg Wigget enige twee woorde van die koper se keuse met die voorwaarde dat die woorde en hul definisies op die motor aangebring word. Dié motors staan bekend as “bewegende woordeboeke”. Daar is geen addisionele kostes vir die koper nie, maar die woorde moet vir ʼn jaar lank op die motor bly. Wigget sê dit is alles ter ondersteuning van die taal.  Daar is glo reeds een Nissan Micra verkoop wat pronk met die woorde “kordaat” en “blitsig”.

Elkeen wat ʼn woord borg kom ook in aanmerking vir prystrekking om ʼn R25 000 Absa-belegging te wen. Die inskrywings vir die prystrekking sluit vanjaar 28 Februarie en die wenner sal op 8 Maart aangekondig word. Liefhebbers van Afrikaans het egter nog tot einde Maart om hul nuwe motor in ʼn “bewegende woordeboek” te verander.  

Met die Borg ʼn woord-projek is daar al heelwat mense wat borgstaan vir die taal. Riaan Cruywagen het die woorde “nuusleser” en “ikoon” geborg terwyl AfriForum die woord “taalregte” eksklusief het. Omdat die WAT se jaarlikse begroting tans R4.5 miljoen is, waarvan die staat slegs R1.2 miljoen subsidieer, poog die projek om op te maak vir die tekort.

Besoek die WAT se webwerf by www.wat.co.za om ʼn woord te borg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.