Afrikaanse rolprent gaan VSA-gehore betower

59343_558391800888803_842769453_n

Sallas de Jager se rolprent Musiek vir die Agtergrond sal ook in die VSA te sien wees. Foto: Musiek vir die Agergrond Facebook-blad

Die nuwe Afrikaanse rolprent Musiek vir die agtergrond wat eersdaags by teaters begin wys, gaan ook in die VSA te sien wees. Die regisseur van die rolprent is die jong, maar uiters suksesvolle Sallas de Jager.

Dexter Davis, uitvoerende hoof van D Street Media Group wat die regte gekoop het om die rolprent in Noord-Amerika uit te reik, sê hulle is opgewonde oor Musiek vir die agtergrond (die Engelse titel sal Background music wees) en hulle kan nie wag om dit vir Amerikaanse gehore te wys nie. Die rolprent sal met Engelse onderskrifte in die VSA en Kanada vertoon word en sal ook later op DVD uitgereik word.

De Jager het met dié rolprent vir die eerste keer in die regisseurstoel in geskuif. Hy was voorheen vervaardiger van die rolprente Roepman en Verraaiers. De Jager se vierde rolprent waar hy as vervaardiger optree, Stuur groete aan Mannetjie Roux, word ook in Desember vanjaar bekendgestel. Roepman, wat in 2011 in Suid-Afrika uitgereik is, sal ook later vanjaar onder die titel Stargazer in die VSA uitgereik word.

“Ons is ongelooflik trots en opgewonde vir die geleentheid om ʼn Suid-Afrikaanse storie vir die grootste mark in die wêreld ten toon te stel,” sê De Jager. Hy is ook oortuig daarvan dat die storie van Musiek vir die Agtergrond ʼn universele tema het en dat enige gehoor in wêreld daarby sal aanklank vind.

De jager het ook ingestem om die regie van twee nuwe rolprente wat deur D Street Pictures vervaardig word, te behartig. Een van die rolprente, ʼn familiedrama getiteld 1961, sal volgende jaar in Suid-Afrika verfilm word, terwyl die tweede rolprent, waarvan die naam nog nie bekend is nie, na verwagting in 2016 in Duitsland en New York verfilm word. “Ons het volle vertroue in Sallas as regisseur en wou vir hom die geleentheid gee om sy merk op internasionale vlak te maak,” sê Davis.

Musiek vir die agtergrond vertel die storie van die talentvolle musikant Paul van der Merwe (John-Henry Opperman) wie se talent raakgesien word deur ʼn musiekvervaardiger (Brümilda van Rensburg). Dié kontrak kom egter met ʼn prys en Paul moet besluit of hy sy eie musiek en sukkelende bestaan sal prysgee vir die kommersiële bedryf om sodoende meer geld te maak.

Musiek vir die Agtergrond begin op 11 Oktober in teaters wys.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amy ·

Dis lekker om te sien daar word goeie gehalte Afrikaanse flieks gemaak, wat in die buiteland vrygestel kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.