Afskaling van Afrikaans aan die Universiteit van Kwazulu-Natal

PEN-AfrikaansDie Universiteit van Kwazulu-Natal is van voornemens om die doseer van Afrikaans as taal af te skaal tot eerstejaarsvak.

“Ons is besorg oor die opleiding van onderwysers in Afrikaans, en die uiters nadelige gevolge wat dit in die toekoms sal hê vir Afrikaans in die skole van Kwazulu-Natal,” het Kerneels Breytenbach, voorsitter van PEN Afrikaans, Vrydag in ‘n verklaring gesê.

“UKZN maak tot nou toe ‘n onvervangbare bydrae tot die opleiding van onderwysers wat Afrikaans in Kwazulu-Natal kan doseer. Die Afrikaans-departement aan UKZN het vanjaar groot groei op eerstejaarsvlak gehad, en die inkorting sal effektief alle groeimoontlikhede in die kiem smoor. Dit sal katastrofale gevolge vir die toekomstige dosering van Afrikaans in skole in Kwazulu-Natal hê.”

Volgens PEN Afrikaans kom die departement oor die weg met ’n minimum personeel en is geen noemenswaardige finansiële las binne die School of Arts aan UKZN nie. “Boonop word Afrikaans beskou as Afrika-taal, en het ‘n belangrike rol gespeel in die vestiging van ‘n Zoeloe Literêre Museum in Pietermaritzburg,” het Breytenbach bygevoeg. “Hierdie ondersteunende rol wat deur die Afrikaans-departement gespeel word, sal noodwendig deur die afskaling vir die universiteit – en Suid-Afrika – verlore gaan.”

Die departement het ‘n trotse tradisie binne die Afrikaanse letterkunde, met die digter D.J. Opperman, die taalkundige Gawie Nienaber, die egpaar Stoffel Nienaber en Miep Luitingh-Nienaber, die stigter van NALN en literatuurgeskiedskrywer PJ Nienaber, die bekende kritici en professore AP Grové en HP van Coller, die Neerlandikus Jacques van der Elst, asook professor Andries Visagie en die skrywers Ingrid Winterbach en Abraham H de Vries wat in die verlede deur dié universiteit gelok is om daar te doseer.

“Ons eis ’n verduideliking van prof. Malegapuru Makgoba vir die besluit om Afrikaans aan UKZN te marginaliseer in ’n tyd waarin die departement ’n groot en wesentlike bydrae tot diéuniversiteit en provinsie lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.