Agliotti skei glo om bates te versteek

Agliotti. Foto: Werner Beukes/SAPA

Agliotti. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die veroordeelde dwelmhandelaar Glen Agliotti het glo van sy vrou geskei om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te verhoed om volle toegang tot al sy bates te kry, berig die Sunday Independent.

Die voorlegging maak deel uit van ʼn beëdigde verklaring wat op 2 Oktober by die hooggeregshof ingedien is toe die SAID vir die voorlopige sekwestrasie van Agliotti se boedel aansoek gedoen het. Die SAID glo ook dat indien Agliotti onder sekwestrasie geplaas sou word, daar ʼn redelike moontlikheid is dat die bates wat hy glo wegsteek aan die lig sal kom. Agliotti skuld die SAID glo meer as R78 miljoen vir oningediende belastingopgawes en BTW-verpligtinge tussen 2003 en 2008. Hy het glo tot 20 Oktober gehad om die aansoek teen te staan maar het dit nie gedoen nie. Dit is die SAID se tweede aansoek om Agliotti se boedel voorlopig te sekwestreer. Adrian Lackay, woordvoerder van die SAID, het bevestig dat hulle vroeër vanjaar ʼn gewysigde aansoek by die hooggeregshof ingedien het. “Die aansoek is nie teengestaan nie en sal volgende maand aangehoor word. Dit is deel van die SAID se pogings om belastingskuld in te dien,” het Lackay aan die koerant gesê. Agliotti het aan die koerant gesê die bewerings teen hom is die “grootste klomp strooi” en dat die “SAID dink hulle weet als maar dat hulle nie doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.