Agri SA: “Regering moet regeer en nie blameer”

Agri SA het Maandag gesê die regering moet verantwoordelikheid neem en doelgerig optree om die vlaag van swak administrasie, onnodige burokrasie en korrupsie op alle regeringsvlakke hok te slaan.

Johannes Möller, die president van Agri SA, het die aankondiging gemaak tydens Agri Oos-Kaap se kongres wat verlede week in Port Elizabeth plaasgevind het.

“Die publiek en spesifiek belastingbetalers voel nie meer gemaklik daarmee om  die verlede te blameer of om die skuld op sogenaamde kapasiteitstekorte te plaas nie. Infrastruktuur wat verval, waterhulpbronne wat vanweë munisipale onbeholpenheid oor ‘n wye front aan uiterste besoedeling blootgestel word en selfs die onvermoë om skole van handboeke te voorsien kan gewoon nie meer geduld word nie”, het Möller gesê.

Volgens Möller wil Agri SA ook nie slegs op die kantlyn staan en kritiseer nie.  “Ons verstaan die uitdagings waarmee die regering te kampe het wat insluit grondhervorming, armoede-verligting en werkskepping maar meer nog dat landbou-produksie wêreldwyd in die afsienbare tyd basies sal moet verdubbel om voedselsekuriteit tot ‘n redelike mate te verseker.  Suid-Afrika sal nie hiervan kan ontkom nie en plaaslike landbou-hulpbronne sal verseker nie vir politieke opportunisme opgeoffer kan word nie.”

Volgens Möller is onderhandelings oor grondbesit uitdagend, maar hy het voldoende vertroue in die proses om boere aan te moedig om steeds met entoesiasme te boer en verder te investeer.  “Die ontwikkeling van beleidsvoorstelle na aanleiding van die Groenskrif oor Grondhervorming word, na my mening, onder die leiding van Minister Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, op ‘n verantwoordelike wyse gedryf en ons sal op basis hiervan deel van die proses bly”, het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.