Agt mense is beseer nadat ʼn taxi en ʼn vragmotor vroeg Vrydagaand in Johannesburg gebots het.
Derrick Banks, ʼn woordvoerder van ER24, sê die ongeluk het op die hoek van Malibongwe- en Suid-Afrikarylaan gebeur.
“Toe die paramedici op die toneel aankom, het albei voertuie meters van mekaar op hul sye gelê,” het Banks gesê. “Die insittendes kon uit die wrakke klouter en het aan die kant van die pad gesit. Die pasiënte is ondersoek en twee is behandel vir rug- en nekbeserings. Ses pasiënte is vir geringe beserings behandel. Al agt is op die toneel gestabiliseer en na verskeie hospitale geneem vir verdere behandeling,” het hy gesê.
Banks sê die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en die betrokke owerhede ondersoek die ongeluk.