Agt gewapende rowers soek ná Menlyn-rooftog

Die polisie is op soek na ʼn groep van agt gewapende mans wat Dinsdag ʼn NWJ-juwelierswinkel in die gewilde Menlyn Park-winkelsentrum in die ooste van Pretoria beroof en ʼn pensioenaris geskiet het.

Ao. Annabelle Middleton, ʼn polisiewoordvoerder, sê vyf gewapende mans het omstreeks 10:00 die winkelsentrum by ingang 7 betree terwyl drie mans buite die sentrum in twee voertuie gewag het. Die vyf verdagtes het die winkel bestorm en personeel beveel om op die vloer te lê terwyl hulle juweliersware gesteel het. “Hulle het uit die winkel gehardloop en een skoot op ʼn pensioenaris gevuur,” het Middleton gesê. Die pensioenaris verhuur Bambino Taxi-stootwaentjies by die sentrum.

“Gelukkig is die man nie ernstig beseer nie. Die koeël het slegs ʼn skraapwond op die man se kop veroorsaak. Hy is op die toneel deur paramedici behandel en deur sy gesin na hul dokter geneem.” Geen ander beserings is aangemeld nie.

Volgens Middleton is die personeel van die juwelierswinkel erg getraumatiseerd en word hulle deur beraders bygestaan.

Die polisie ondersoek in die stadium ‘n saak van gewapende besigheidsroof. Die waarde van die juweliersware, wat gesteel is,  is nog nie bekendgemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.