Argeoloë onder die leiding van prof. Salima Ikram van die Amerikaanse Universiteit in Kaïro, het tydens roetine-ondersoeke op die gemmumifiseerde karkasse van byna 8 miljoen honde afgekom.
Die katakombe by Saccara in Egipte bevat honde van verskillende rasse. “Van die honde was al oud, maar sommige is vermoedelik ure ná hul geboorte begrawe,” het Ikram gesê. “Daar is ook kat- en muishondmummies.”
Die honde is waarskynlik gemummifiseer omdat aanhangers van die afgod Anubis, geglo het die gees van honde (en soms ander diere soos katte) hul gebede na die hiernamaals kan dra. Dit is soortgelyk aan mense wat ‘n kers aansteek en glo die rokie dra hul gebede direk na God. Anubis word gewoonlik uitgebeeld met die kop van ‘n hond of jakkals.