Agt mense is dood nadat twee motors Saterdagaand reg van voor gebots het op die R618 tussen Vryheid en Nongoma in KwaZulu-Natal.
Kwanele Ncalane, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, sê sewe van die slagoffers is op slag dood terwyl die agtste persoon gesterf het terwyl paramedici gespook het om haar uit die wrak te bevry. Ncalane sê die oorledenes is ses volwassenes en twee jeugdiges. Verskeie mense is ook in die ongeluk beseer. Willies Mchunu, LUR vir vervoer in die provinsie, het sy skok oor die ongeluk uitgespreek en ʼn beroep op motoriste gedoen om waaksaam op die paaie te wees.