Agt vas vir betrokkenheid by motorslaghuis-sindikaat

Argieffoto

Agt mans is die afgelope naweek in Johannesburg vasgetrek omdat hulle moontlik deel is van ʼn motorslaghuis-sindikaat.

Ao. Kay Makhubela het Sondag gesê die inhegtenisnemings volg nadat ʼn voertuig Donderdag in Dobsonville in Soweto gekaap is. “Die polisie het Saterdag inligting ontvang dat vermeende lede van dié sindikaat in Protea Glen besig is om die voertuig se onderdele te stroop,” het Makhubela gesê.

Die polisie het by die toneel opgedaag en twee verdagtes, onderskeidelik 28 en 32 jaar oud, op heterdaad betrap.

Met verdere ondervraging is die polisie na twee ander mans gelei, wat na bewering gereeld onderdele by die verdagtes gekoop het. Dié kopers is ook in hegtenis geneem.

Dié “klante” het die polisie na ʼn werkswinkel, waar voertuigonderdele verkoop word, in Johannesburg se middestad gelei. Twee mense is by die werkswinkel in hegtenis geneem vir besit van gesteelde goedere.

Na verdere ondersoek is twee ander verdagtes ook in Soweto in hegtenis geneem in verband met dié ondersoek.

Al agt moet Maandag in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.