Agt veiligheidswagte vas ná diefstalle by vakansieoord

Agt veiligheidswagte wat by ʼn gewilde vakansieoord in Bela Bela gewerk het, is in hegtenis geneem na ʼn vlaag diefstalle die afgelope paar weke.

Luitenant-kolonel Ronel Otto het gesê talle vakansiegangers het die afgelope tyd onder die wagte se misdade deurgeloop.

“Vakansiegangers sou hul wooneenhede verlaat en wanneer hulle later terugkeer, vind dat verskeie waardevolle items soos skootrekenaars en kameras gesteel is,” het Otto gesê. Sake van huisbraak en diefstal uit voertuie is by die Bela Bela-polisiestasie aanhangig gemaak.

“Speurders het die sake ondersoek wat tot die inhegtenisname van agt veiligheidswagte gelei het. Die wagte het glo ʼn lopersleutel gehad en dit onder mekaar uitgeruil. Hulle het die beweging van vakansiegangers dopgehou en op die eenhede toegeslaan as hulle weg is,” het Otto gesê.

Die polisie het beslag gelê op verskeie items wat as gesteel aangemeld is.

Twee verdagtes, Amon Baloyi (34) en Aubrey Mangwale (31), het Woensdag in die Bela Bela-landdroshof verskyn nadat hulle Dinsdag in hegtenis geneem is. Hulle sal op 4 September weer in die hof verskyn om vir borgtog aansoek te doen. Die ander ses verdagtes gaan binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Petro Doman ·

En om boonop alles te kroon vat die oorde nie verantwoordelikheid vir enige iets wat gesteel word nie. En hoe verduidelik jy vir jou versekering dat die goed net WEG is – geen sigbare inbraak nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.