AK-47-ontwerper sterf

Mikhail Kalashnikov

Mikhail Kalashnikov

Mikhail Kalashnikov, die ontwerper van die berugte AK-47-aanvalsgeweer, is Maandag in die ouderdom van 94 oorlede.

Die presidensie in die Udmurtia-streek, waar hy gewerk het, het sy afsterwe aangekondig. Kalashnikov is ná ʼn lang siekbed oorlede.

Hy is in die Sowjet-Unie beskou as ʼn nasionale held en simbool van Moskou se trotse militêre geskiedenis, ondanks die vuurwapen wat sinoniem geraak het met sterftes.

“Kalashnikov is in Izhevsk oorlede, ʼn nywerheidsgebied ongeveer 1 300 km oos van Moskou,” het Viktor Chulkov, woordvoerder vir Alexander Volkov, leier van Udmurtia, aan AFP gesê.

Vladimir Putin, president van Rusland, het sy medelye betoon aan die familie van die “uitstekende” ontwerper.

Kalashnikov het in ʼn stadium gesê dit was nooit sy bedoeling met die vuurwapen om die wapen van voorkeur te word vir konflikte wêreldwyd nie. “Ek het ʼn vuurwapen ontwerp om die vaderland se grense te beskerm. Dit is nie my skuld dat dit soms gebruik is wanneer dit nie gebruik moes word nie. Dit is politici se skuld,” het hy tydens ʼn seremonie by die Kremlin om sy 90ste verjaarsdag te vier, gesê.

AK-47 se naam verwys na “Kalashnikov’s Automatic” en die jaar van die finale weergawe van die wapen se ontwerp in 1947.

Meer as 100 miljoen AK-47’s is al wêreldwyd verkoop.

Kalashnikov het egter nie finansieel gebaat uit sy ontwerp nie, en hy het nederig bly leef.

Sy vrou, Yekaterina is in 1977 oorlede. Hulle het vier kinders gehad waarvan drie nog leef. Dié kinders werk almal aan projekte wat verband hou met hul pa se nalatenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.