Akademia stel ses onderrigleersentrums regoor Suid-Afrika bekend

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, praat uit Pretoria gelyktydig met rolspelers in ses lokale landswyd. Foto: Reint Dykema

Akademia, ’n inisiatief van die Solidariteit Beweging, het Woensdag ses onderrigleersentrums in Centurion, die Moot in Pretoria, Vanderbijlpark, Boksburg, Roodepoort en Stellenbosch bekendgestel. Akademia is ’n privaat verskaffer van studieprogramme wat op dieselfde vlak as dié van universiteite geakkrediteer is.

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, meen die krag van die Akademia-model is dat dit bekostigbaar en eenvoudig is om onderrigleersentrums in enige gemeenskap te vestig. “Ons vat Afrikaanse hoër onderwys na die mense toe. Die onderrigleermodel is in die eerste plek daarop gefokus om studente suksesvol in hulle studies te maak. Daarbenewens maak die gevorderde onderrigtegnologie dit moontlik dat ons hoër onderwys bekostigbaar kan aanbied. Ons programme is tussen 30% en 50% goedkoper as in die res van die mark. Ons het intensiewe navorsing gedoen oor skaars beroepsrigtings in Suid-Afrika en ons kies ons programme daarvolgens. Studente sal dus gesogte kwalifikasies kry wat hulle toetrede tot die arbeidsmark makliker sal maak,” het Visser gesê.

Die programme word in Afrikaans aangebied en is daarop gemik om mense gekwalifiseerd en aanstelbaar in ’n groeiende ekonomie te maak. Akademia se eerste onderrigleersentrums is reeds in Centurion, die Moot in Pretoria, Vanderbijlpark, Boksburg, Roodepoort en Stellenbosch ingerig. Nog dorpe waar sentrums opgerig kan word, word tans geïdentifiseer.

Akademia het reeds vroeër vanjaar vier onderrigprogramme (drie sertifikate en ’n diploma) begin aanbied en kan so vroeg soos volgende jaar sy eerste graad aanbied. Danksy die nuutste telematiese tegnologie gaan Akademia interaktiewe klasse oor Suid-Afrika heen by die ses onderrigleersentrums aanbied. Die instelling beplan om binne vyf jaar onderrigleersentrums in elke groot sentrum in die land te vestig en om aan die einde van die vyf jaar 10 000 ingeskrewe studente oor ’n wye spektrum van studierigtings te hê.

Meer oor Akademia:

Besoekers aan die Centurion-kampus. Foto: Reint Dykema

Akademia, ’n inisiatief van die Solidariteit Beweging, is ’n splinternuwe privaat Afrikaanse afstandonderriginstelling wat hoëronderwys-kwalifikasies van gehalte teen 30% tot 50% goedkoper as die res van die mark bied. By Akademia kan studente hulle nauurs in skaars beroepsrigtings bekwaam en hulself daardeur aanstelbaar maak in ’n groeiende ekonomie. Akademia spog reeds met ses leersentrums in Centurion, die Moot in Pretoria, Vanderbijlpark, Boksburg, Roodepoort en Stellenbosch, en beplan om binne vyf jaar ’n leersentrum in elke groot sentrum in Suid-Afrika te bedryf.

Akademia bied:

  • Gehalte-studiemateriaal in Afrikaans wat Afrikaans as wetenskaptaal bevorder;
  • nauurse, interaktiewe lesings by ’n hoëtegnologie-leersentrum in jou omgewing;
  • ’n tabletrekenaar vir navorsing, opdragte en kommunikasie met Akademia;
  • ’n elektroniese biblioteek; en
  • persoonlike kontak, begeleiding en ondersteuning.

Vir meer inligitng, bedoek hul webwerf www.akademia.ac.za

Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Klik hier om ʼn artikel deur Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging, oor die belangrikheid van Akademia in Suid-Afrika te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.