Akademia word eerste privaat instelling wat BCom-graad in Afrikaans aanbied

graduatinoAkademia, die hoëronderwysinstelling van die Solidariteit Beweging, het pas die eerste privaat instelling geword wat ʼn ten volle Afrikaanse BCom-graad gaan aanbied. Die Raad op Hoër Onderwys het hierdie week bekend gemaak dat ʼn driejarige BCom-graad in Ondernemingsbestuur van Akademia geakkrediteer is. Akademia sal dié graad vanaf 2014 aanbied.

Akademia het kundiges in die bedryf en vooraanstaande akademici van openbare universiteite genader om die graad te help ontwikkel ten einde te verseker dat die graad akademies uitnemend en toepaslik vir die mark is.

Wat die graad nog verder uniek maak, is dat dit deur die nuutste interaktiewe videotegnologie by sewe leersentrums oor Suid-Afrika heen aangebied gaan word. Akademia is die eerste onderwysinstelling wat ten volle geïntegreerd van hierdie nuwe videokonferensietegnologie vir onderrig gebruik maak. Hierdie tegnologie maak universiteitvlakopleiding meer toeganklik en bekostigbaar, en verskaf hoëvlak-leerondersteuning aan afstandonderrigstudente. Die fokus van hierdie model is om studente deur optimale ondersteuning te help om suksesvol te studeer.

“Die akkreditasie van die BCom-graad is ʼn belangrike stap in die vestiging van ʼn nuwe, groot privaat Afrikaanse universiteit. Ons is nie net trots op die feit dat Afrikaans as wetenskaptaal versterk word nie, maar ook dat Akademia die voorloper is van ʼn nuwe hoëtegnologiemodel van Afrikaanse universiteitswese,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.

Volgens Marthinus Visser, uitvoerende hoof van Akademia, kan studente as gevolg van die unieke nauurse model ekonomies aktief wees en terselfdertyd studeer. “Ons het gesoek vir ʼn model wat die voordele van kontakonderrig en tradisionele korrespondensie-onderrig kombineer, al kom hulle op verskillende plekke in die land bymekaar. Die enigste manier hoe dit regstreeks en interaktief gedoen kan word, is deur die nuwe interaktiewe videotegnologie wat Akademia gebruik. Akademia-studente draf ook byna papierloos klas omdat elke student ʼn tabletrekenaar ontvang waarop al die studiemateriaal gelaai word,” het Visser gesê.

Akademia het in 2012 ʼn studie onder Afrikaanse hoërskoolleerlinge by 99 skole gedoen. Hierdie studie het ʼn oorweldigende behoefte onder Afrikaanse leerlinge om spesifiek in Afrikaans te studeer, getoon. Altesaam 74% van die respondente het aangedui dat hulle by ʼn universiteit wil studeer en 68% wil in Afrikaanse studeer. Daar blyk ʼn drastiese afname te wees in instellings wat studies in Afrikaans bied, wat ʼn spesifieke behoefte aandui. Akademia wil in hierdie behoefte voorsien.

Die akkreditasie van die BCom-kwalifikasie is ʼn belangrike stap om Akademia se eerste fakulteit, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, uit te bou en te versterk. Hierdie kwalifikasie is ʼn toevoeging tot Akademia se reeds bestaande aanbod van hoër sertifikate in onderskeidelik Kantooradministrasie en Rekeningkunde asook twee diplomaprogramme, een in Bemarking en die ander in Kleinsakebestuur en Entrepreneurskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

FW is 'n verraaier ·

Hoogtyd ons begin weer Afrikaans aanbied. Ons moet dit uitbrei en ‘n slegs-Afrikaanse kampus bou in Orania. SLEGS AFRIKAANS, en slegs mense wat soos ons dink word aanvaar, ongeag die kleur.

a.lombard ·

Alhoewel VIRSEKER veel duurder is as my vorige assuransie, betaal ek dit met liefde as ek sien waar my klein bydrae gaan….goed gedaan!

Seg Net ·

Wel gedaan Solidariteit julle het gewys dat dit gedoen kan word al is ons Afrikaner in die minderheid. Watter ander rassegroep het dit al in die land op hulle eie vermag?

Marna ·

Baie geluk! Vertrou dit word goed ondersteun sodat almal wat hard gewerk het om dit te laat gebeur darem vrug op hulle arbeid sal sien!
Jasper, Orania het reeds sy eie bank en geldeenheid!! kyk op http://www.orania.co.za

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.