Aktrise praat ná selfmoordpoging

Die TV-kanaal kykNet sê hy is ten nouste betrokke by Lindie Stander, die Binneland-aktrise wat verlede week probeer selfmoord pleeg het, se herstelproses.

kykNET het “na aanleiding van die kykers se reaksie en verskeie briewe in die media” oor Stander se rol as verpleegsuster Elize Kruger wat na aanleiding van die voorval uit die sepie geskryf gaan word, op Facebook gesê: “Sy is een van ons gewaardeerde medewerkers wat ‘n lang verbintenis met kykNET het. Niemand het nog ooit getwyfel oor haar uitsonderlike talent en vermoëns nie en ons is baie bewus van die gewildheid van haar karakter in Binneland. Dis egter nie waaroor dit gaan nie. Haar huidige ineenstorting is die jongste in ‘n opeenvolging van voorvalle oor die afgelope paar jaar waarin daar verskeie pogings aangewend is om haar te help. Met groot deernis en simpatie. Dit het geleidelik duidelik geword dat hierdie pogings nie meer voldoende is nie en die vervaardigers is genoop om stappe te doen omdat sy nie meer in staat was om te funksioneer en haar werk te doen nie. In geen stadium het dit oor iets anders as haar persoonlike welstand gegaan nie. Vir ons almal is dit nou prioriteit om seker te maak sy kry die regte behandeling en ondersteuning om haar op die pad van herstel te help. Lindie kry op die oomblik met die volle ondersteuning van kykNET professionele hulp en behandeling. Die beste wat ons almal vir haar kan doen, is om haar nou met rus te laat sodat sy in privaatheid kan konsentreer op haar herstel en persoonlike geestesgesondheid. Wees verseker dat kykNET daar is vir haar en nog altyd was.”

Intussen berig Volksblad dat Stander gister op Facebook reageer het deur te sê: “Verstaan seblief hulle doen hulle bes om my te help. Aan my vervaardigers, Elsje en Friedrich Stark, en aan Karen Meiring (kanaalhoof) van kyk­NET: Ek weet nie hoe om my dankbaarheid uit te spreek nie. Verstaan asseblief dat ek daarsonder nie sou kon herstel nie. Maar bowenal, aan God al die eer. Die Skepper het my op my knieë gedwing, ek is niks sonder Sy genade nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.