Al wat jy sien is die Bulletjiemasjien!

Hier staan die manne! Midstream Ridge Laerskool se Wian Ackerman, Willem Prinsloo, Hentie Jansen van Rensburg, Liam Strauch, Estiaan Kotze, Logan Naude, Ryan Stokes en Damon Heath saam met afrigter Willie Prinsloo. (Foto: Charmaine Visser)

Midstream Ridge Laerskool was Saterdag letterlik ʼn miernes van rugbybedrywighede tydens die immergewilde Bulletjierugbydag.

Op die een perfek uitgemerkte veldjie wys die volgende Kurt-Lee Arendse hakskene vir sy teenstanders en op ʼn ander gaps ʼn toekomstige Kwagga Smith die bal met ongekende oorgawe.

Goeiste, selfs lángs die kantlyn is dinge aan’t gebeur: ʼn Pa beraam soos ʼn wafferse Rassie Erasmus planne en een van die spelers klink net soos Siya Kolisi wanneer hy sy spanmaats moed inpraat.

“Komaan, boys!”

Laerskool Hennopspark se Bismark Pretorius. (Foto: Charmaine Visser)

Altesaam 399 spanne het vir 4 139 entoesiastiese spelers gesorg, terwyl ʼn rits stalletjies en ʼn pretpark so saam met die reuk van pizzas en hamburgers tot die dag se sukses bygedra het.

“Toe al die Bulletjies ʼn draai kom maak het om ʼn foto saam met die Superrugby Unlocked-trofee te neem, het ek juis gedink dat daar heel waarskynlik ʼn paar toekomstige Springbokke onder hulle is,” het ʼn trotse Riaan Langenhoven gesê.

Dié raakvat onderwyser van Midstream Ridge en sy toegewyde span van die Laerskole Bulletjierugby-bestuur verdien ongetwyfeld ’n klop op die skouer: Vanjaar se rugbydag was groter, beter én lekkerder as ooit.

“Jou gesindheid moet net reg wees; dan is daar niks wat in jou pad staan om jaarliks ʼn beter produk te lewer nie. Dit is vir my verblydend om te sien hoe groot en klein, seuns en dogters en selfs kinders met net een been of arm ʼn liefde vir rugby ontwikkel.”

Oarabile Mokgadi van Laerskool Pretoria-Oos. (Foto: Charmaine Visser)

Rugby is ʼn spansport en vir Marcel van Nieuwenhuizen, ʼn lid van die Bulletjierugby-bestuur, is dit sommer ʼn voorreg om al die spelers as ʼn eenheid te sien saam speel; selfs al verloop dinge nie altyd volgens plan tussen die vier lyne nie.

“Van die mooiste dinge van die dag is dat elke kind ʼn geleentheid kon kry om te speel en om deel van ʼn span te wees,” het hy gesê.

Sion Hartung, HJ Smit, Andru Botha van Laerskool Mayville. (Foto: Charmaine Visser)

Die entoesiasme, glimlagte, drieë en pypkanvaardighede van die spelers moet ook vir Willem Strauss breed laat glimlag.

Die president van die Blou Bulle Rugbyunie sê gereeld dat hy net so lief vir skool- en klubrugby is as wat hy vir Jake White se senior span is.

“Dit is fantasties,” het Strauss gesê.

“Ons mini-rugbyprogram is beslis een van die bestes en grootstes wêreldwyd. Dit is ʼn baie belangrike ouderdom waar kinders ʼn liefde vir die spel en sy waardes ontwikkel. Dit is ʼn wonderlike geleentheid en ʼn wonderlike gesig om te sien.”

Nevaeh Lemmer hardloop met die bal vir Laerskool Tygerpoort. (Foto: Charmaine Visser)

Niekontakvaardighede word opgeskerp

Laerskool Danie Malan se Kyler Valchar stal sy vaardighede uit. (Foto: Charmaine Visser)

Een van die redes vir Bulletjierugby se sukses is die feit dat spelers se niekontakvaardighede opgeskerp word.

Dan is beserings minimaal juis omdat hulle nie op dié vlak kontakrugby speel nie, maar eerder RIP-rugby.

Aan elke speler word daar ’n paar stukke materiaal vasgemaak en verdedigers moet dan – in plaas van têkkel – die linte losruk.

“Die RIP-formaat verbeter alle aspekte van ’n jong speler se spel – hul hardloop- en balvaardighede, hand-oog-koördinasie, besluitneming op die veld en die samespel tussen spelers. Groot en klein spelers kry só ook die geleentheid om deel te wees van die spel,” het Langenhoven in ’n vorige onderhoud gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

knolle ·

Ek het amper 20 jaar gelede my eerste bulletjie wedstryd bygewoon. Die kleine mannetjies was te ougat. Hoe gaan dit deesdae met die ouers langs die veld?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.