‘Albei sy arms en verskeie ribbes was gebreek’

ʼn Ma wat daarvan beskuldig word dat sy haar babaseuntjie vermoor het, het Donderdag rukkend gehuil en met haar gesig in haar hande in die beskuldigdebank gewieg terwyl ʼn chirurg haar baba se beserings beskryf het in die hooggeregshof in Pretoria.

Marissa Rudman (36) en haar voormalige kêrel, Nolan Schoeman (32), is van moord en kindermishandeling aangekla nadat hulle twee maande oue babaseuntjie Wade in April 2009 aan kopbeserings dood is in die Steve Biko hospitaal. Die chirurg, dr John Samuels, het in die hof getuig dat Wade in ʼn kritieke toestand was en dat hy stuitrekkings gekry het. Sy een oog was glo ook toegeswel en hy het sigbare merke op sy kop en lyf gehad toe hy in die hospitaal opgeneem is. Samuels het getuig dat sy ouers glo blou merke op Wade se kop gesien het en gedink het ʼn spinnekop het hom miskien gebyt, maar hy sê dit was duidelik dat “baie harde houe” die trauma aan sy kop en bors veroorsaak het. Daar is ook X-strale geneem wat gewys het dat albei Wade se arms sowel as verskeie ribbes gebreek was. Wade se een long was ook gekneus terwyl sy brein ook op verskeie plekke gebloei het. Rudman en Schoeman ontken dat hulle Wade se beserings veroorsaak het. ʼn Familielid het getuig dat Rudman en Schoeman albei die dwelm Cat gebruik het. Rudman beweer sy het opgehou om dit te gebruik toe sy swanger geraak het met Wade. Schoeman voer aan dat hy die dwelm gebruik het om te keer dat Rudman hom aanrand. Die verhoor duur voort.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mike ·

Jammer die doodstraf bestaan nie meer nie. Sluit hulle lewenslank toe en maak seker hulle sien nooit weer die son opkom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.