All Blacks vermorsel Wallabies in Sydney

Argieffoto

Dis net die Springbokke wat tussen die All Blacks en nog ’n Rugbykampioenskap-titel staan nadat die Nieu-Seelanders Australië in Sydney met 47-29 afgeransel het. Die rustydtelling was 25-19.

Die deurslaggewende faktor was die All Blacks se ses drieë teenoor die Wallabies se twee. Veral die Smiths het gebaljaar met Ben Smith wat die doellyn drie keer oorgesteek het en die veteraan Conrad Smith, gehelp deur Aaron Smith, wat een keer gaan druk het.

Die wêreldkampioene het hiermee vroeg reeds die topposisie op die puntelys vir hulself toegeëien met ’n voltal en het daarmee saam ook die Bledisloebeker in Nieu-Seeland gehou. Die Wallabies het geen lyspunte uit hierdie wedstryd verdien nie.

Ben Smith het ná slegs twee minute in die hoekie gaan druk toe die vleuel James O’Connor hom uit sy verdedigingsposisie bevind het. Aaron Cruden het die drie verdoel, waarna hy ‘n strafdoel behaal en die Wallabysenter Christian Leali’ifano ook vier oorgeskop het om die telling 12-10 in die guns van die Aussies te maak.

Toe het die drieëfees van die eerste helfte sy aanvang geneem. Eers het Cruden ’n skop deur Leali’ifano afgestorm, dit vlak voor die doellyn opgepik en oorgeval. Die All Black se kaptein Richie McCaw, wat duidelik sy roes afgeskud het ná ’n Superrugbybreek, het twee minute daarna in die hoekie oorgeduik toe die All Blacks dit weer reggekry het om ’n numeriese voordeel naby die kantlyn te skep.

Daarna was dit die Wallabies se beurt. Michael Hooper het omgekeerde besit verkry van ’n slordige All Blacklynstaan en die bal vir Will Genia gegee . Die die Wallabyskrumskakel het sowat 60 meter genael en onder die pale gedruk. ’n Cruden-strafdoel was die laaste punte van die eerste helfte.

Die tweede helfte was aanvanklik besadigd met Leali’Ifano se strafdoel die enigste punte in die eerste tien minute.

Die wedstryd het egter skielik verander toe Aaron Smith die Wallabies dronk gehad het met ’n dartellopie van agter ’n losskrum en toe die bal vir Conrad Smith gegee het vir die bonuspuntdrie. Cruden se doelskop het die Nieu-Seelanders se voorsprong tot 32-22 gerek. Daarna het Ben Smith sy tweede drie in die hoekie gedruk nadat die All Blacks omgekeerde besit van ’n Aussieskrum bewerkstellig en die bal wyd laat loop het. Cruden het die wedstryd se uitslag met ’n strafdoel buite twyfel geplaas.

Ben Smith was nog nie klaar nie en met 10 minute oor het hy ’n opportunistiese drie gedruk toe ’n los bal uit ’n losgemaal geskiet het. Hy het dit opgetel en rieme neergelê doellyn toe. Beaden Barrett het die telling ’n vernederende 47-22 gemaak.

Die Aussies speel onder ’n nuwe afrigter, Ewen McKenzie en hul skrale troos is dat O’Connor in die doodsnikke ’n bres in die besoekers se verdediging kon slaan. Leali’Ifano het die drie verdoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.