Alle griepvirusse oor vier jaar dalk met een inenting hokgeslaan

Argieffoto

Argieffoto

Die gevaar dat die wêreld weer deur ‘n grieppandemie getref kan word soos dié van 1918 toe miljoene mense wêreldwyd gesterf het, kan oor vier jaar iets van die verlede wees.

‘n Inenting wat vir alle griepvirusse werk, kan dan ‘n werklikheid wees, aldus die leier van ‘n internasionale konsortium van twaalf wat ondersoek gaan instel. Die navorsing word deur die Europese Unie geborg. Boonop gaan die span kyk na ‘n alternatief vir die naald wat veroorsaak dat baie brawe manne nou die “moeite” ontsien om jaarliks ‘n voorkomende inspuiting “in die lyf te loop.”

Prof. Erik Frijlink van die Rijksuniversiteit Groningen wat die span lei, is optimisties. Hy verduidelik dat inspuitings jaarliks nodig is omdat die verskillende griepvirusse, waaronder die gevreesde vark- en griepvirusse gereeld muteer. Nou word gekyk na die dele van die virus wat nie muteer nie, soos die eiwit in die selkern. Inentings sal met ‘n universele entstof minder gereeld toegedien hoef te word, en groot besparings tot gevolg hê.

Die werklike voordeel is dat daar nie nog aan ‘n nuwe entstof gewerk sal hoef te word wanneer ‘n nuwe variant reeds as dodelike pandemie toegeslaan het en mense sterf nie.

Benewens die feit dat dit moeilik is om entstof in voorraad te hou vir die volgende uitbreking omdat die bestaande entstof net ‘n jaar lank bevrore geberg kan word. Die nuwe griep-variant kan selfs ‘n heel ander variant, soos Meksikaanse of Spaanse griep wees. Die nuwe entstof wat in poeiervorm ingeasem word, kan tien jaar geberg word.

Benewens die poeiervorm kyk die navorsers ook na ‘n entstof wat op die DNS werk, en een wat op die M2-proteïn konsentreer. Hierdie dele van die selkerne muteer nie, en entstowwe sal dus langer doeltreffend wees.

Frijlink het op navraag van Maroela Media verduidelik dat die navorsing ook daarop gerig is om voldoende voorraad entstof gereed te hê, en dat die universele entstof ook vir griepvariante met pandemiese potensiaal, soos vark- en voëlgriep doeltreffend sal wees.

Nuwe mutasies vark- en voëlgriep muteer soms om na mense oordraagbaar te wees, soms met pandemiese gevolge. Ondersoeke in 2005 het getoon dat die grieppandemie wat in 1918 sterk ooreenkomste toon met die H1NI voëlgriepvirus.

In Kambodja het die H5N1-voëlgriepvirus vanjaar reeds twaalf lewens geëis.

Die moontlikheid dat dodelike gemanipuleerde voëlgriep-virusse uit ‘n laboratorium kan ontsnap en ‘n grieppandemie met ‘n hoë sterfpersentasie kan veroorsaak, het onlangs in sekere kringe ontsteltenis veroorsaak.

Kort na die publikasie van ‘n navorsingsverslag dat die dodelike H7N9-voëlgrpevirus wél in minstens een geval van mens tot mens oorgedra is, het ‘n Nederlandse viroloog vir ‘n omstrede verdere ondersoek gevra.

Tot in daardie stadium het sowat 130 mense die virus opgedoen, waarvan  43 oorlede is.

Tot onlangs is aanvaar dat die virus net van voël tot mens oorgedra kan word, omdat die mense wat siek geword het in by pluimveemarkte gekom het. So ver het nog net een geval voorgekom waar die oorledene klaarblyklik die virus van ‘n ander mens opgedoen het. ‘n Chinese vrou van 32 is oorlede na sy haar pa, (60), in die hospitaal versorg het. Die pa het wel gereeld ‘n pluimveemark besoek, maar die dogter het geen blootstelling daaraan gehad nie. Die Chinese navorsers wat die geval bevestig het, het egter tot die gevolgtrekking gekom dat die virus in sy huidige vorm baie moeilik van mens tot mens oorgedra kan word.

Dr. Ron Foucier en sy kollegas het die H7N9-virus ondersoek en aan die hand van die molekulêre eienskappe tot die gevolgtrekking gekom dat molekulêre kenmerke van die virus daarop dui dat oordrag van mens na die mens net ‘n haarbreedte weg kan wees.

Die ander spanlede is van Noorweë, Duitsland, Denemarke en Hongarye.

Nie alle viroloë stem saam dat so ‘n universele entstof binne vier jaar moontlik is nie. Frijlink wys egter daarop dat daar al belowende middels getoets is, sommiges ook op mense.

Omdat middels gewoonlik eers op diere getoets word, is dit waarskynlik dat boere, soos volstruisboere wat gereeld enorme skade weens voëlgriep ly, ook voordeel sal trek.

Met die voorkoms van outisme wat die afgelope aantal jare skerp toeneem het, sal die nuus oor die doeltreffender voorkoming van griep ook goeie nuus wees. ‘n Deense studie wat onlangs in die joernaal, Pediatrics gepubliseer is, toon dat moeders wat griep tydens swangerskap gekry het, se kanse twee keer so groot is om ‘n outistiese kind in die lewe te bring as ‘n ma wat nie griep gehad het nie.

Die studie het behels dat 97 000 kinders tussen die ouderdomme van 8 en 14 ondersoek is, waarvan net een persent op die outismespektrum gediagnoseer is.

Uit hierdie een persent gevalle het dit geblyk dat die moeders wat tydens swangerskap griep gehad het, se kanse twee keer so groot was dat die baba outistiese sou wees as diegene wat nie griep ontwikkel het nie. Onder die moeders wat voor die 32ste week van swangerskap koors gehad het, was die kanse selfs drie keer so groot.

Die navorsers beklemtoon dat die navorsing nie daarop dui dat griep of hoë koors outisme veroorsaak nie. Dit dui wel daarop dat swanger vroue hulle teen griep behoort te laat inent.

Verskeie genetiese mutasies is reeds geïdentifiseer wat met verskillende variasies van outisme verband hou. In sekere gevalle het mense wel die mutasies maar toon geen teken van outisme nie, wat daarop dui dat minstens sommige tipes outisme deur snellerfaktore “geaktiveer” word. Die griep sou dus nie noodwendig self die outisme veroorsaak nie, maar kan dit dalk “aktiveer” as die mutasie reeds teenwoordig was.

Die navorsers is duidelik gevoelig daarvoor dat moeders nie deur hul gesinne en selfs uitgebreide families verkwalik word vir die kinders se outisme nie. Hulle wys daarop dat die studie van moeders se terugvoer, en nie mediese rekords nie, verkry is. Daar kon dus geen definitiewe verband tussen griep, langdurige koors en outisme bepaal word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Hoofnuus, Nuus, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Dalene ·

Die nuwe formaat maak baie stadig op my BB oop en lees moeilik. Soveel geduld het ek beslis nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.