Alle matrieks druip by duur Gauteng-skool

'n Plasing op die skool se Facebook-blad wemel van die spelfoute

‘n Plasing op die skool se Facebook-blad wemel van die spelfoute

Al ses matrikulante by ʼn onafhanklike skool in Midrand, waar ouers R1 600 per maand skoolgeld moet betaal, het hul matriekeksamen gedruip, het Rapport berig.

Die Boulders Techno School was Gauteng se enigste skool waar nie een van die matrikulante geslaag het nie. Die skool se matrikulante het die departement van basiese onderwys se eksamens vir die nasionale senior sertifikaat afgelê.

Volgens die skool se webwerf kan leerlinge en ouers “akademiese uitnemendheid” en “ʼn groot dosis tegnologie” verwag.

Die nabygeleë Hoërskool Midrand, waar skoolgeld R1 000 per maand beloop, het ʼn 97.6% slaagsyfer vir sy matrieks gehad. Hoërskool Centurion, waar ouers R1 400 per maand skoolgeld betaal, spog met ʼn 100% slaagsyfer.

Prince Sinamane, die skoolhoof en besturende direkteur, het nie op Rapport se navrae oor sy matriekprestasie en duur skoolgeld reageer nie.

Toe ʼn ouer in 2012 op die skool se Facebook-blad navraag gedoen het oor die geloofwaardigheid van die skool, het die skool aangevoer die “disturbalizing” gerugte is kwaadwillig en onsin.

Sinamane, wat die titel “dr.” op die skool se webwerf gebruik, dig die volgende aanhaling aan homself toe: “There is no relationship to anything if there is not the right feeling for beauty, a response to nature, to music and art, a highly developed aesthetic sense.”

ʼn Google-soektog bevestig egter dat dié woorde aan die Indiese intellektueel, Jiddu Krishnamurti, behoort.

Karen Lynn Bishop, een van die ouers, het aan Rapport gesê: “Daar was allerhande beloftes oor tegnologie, maar toe my seun in die skool was, het daar net een rekenaar gewerk.”

ʼn Ander ouer van ʼn voormalige leerling aan Boulders, wat graag anoniem wou bly, het aan Rapport gesê die leerlinge moes in ʼn stadium in Sinamane se motorhuis skoolgaan, aangesien hy glo nie huur vir die skool se vorige perseel betaal het nie.

Die koerant het Vrydag besoek afgelê aan die skool, waar ʼn personeellid aangevoer het dat daar tans 89 ingeskrewe leerlinge van graad R tot graad 9 in die skool is. Die personeellid het gesê die besluit is geneem om nie meer leerlinge tot in matriek te onderrig nie.
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.