Alle “vreemde voorwerpe” opgespoor

Een van die houers wat uitgespoel het. Foto: Rieghard Janse van Rensburg , RRAD Photography.

Al vyf houers wat van ʼn Sjinese skip naby die Oos-Kaapse kus oorboord gespoel het, is opgespoor en sal Saterdag herwin word.

Maroela Media het op 17 Julie berig dat een van die silinders aanvanklik eers met ʼn gestrande walvis verwar is. Volgens die Maritieme Reddingskoördinasiesentrum (MRCC) was die houers afkomstig van die skip Anguan Gjing wat van Durban na Nigerië onderweg was. Die houers het op 14 Julie tussen Port Elizabeth en St Francisbaai in hewige stormseetoestande oorboord gespoel. Die MRCC het per radio waarskuwings aan seevaartuie in die omgewing uitgestuur om op die uitkyk te wees vir die silinders, aangesien dit ʼn gevaar vir hulle kan inhou sou hulle daarteen bots.

Die polisie het daarna die kuslyn patrolleer en op die ander silinders afgekom. Die MRCC het bevestig dat al vyf die houers leeg is en geen gevaar vir die omgewing inhou nie. Hulle het Xtreme Projects gekontrakteer om die houers te herwin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.