Alliansie nie oortuig deur hidrobrekers

Argieffoto

Argieffoto

AfriForum het aan RoyalDutch Shell en Shell (SA) geskryf om aan hierdie maatskappye die geleentheid te bied om op vrae te reageer wat die burgerregte-organisasie van verteenwoordigers van Suid-Afrikaanse gemeenskappe gekry het waarin kommer oor skaliegasontginning (hidrobreking) geopper is. “Dit is jammer dat Shell die geleentheid om betekenisvolle kommunikasie hieroor te bewerkstellig, misgeloop het deur aan ons groen praatjies te verkoop,” het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, gesê.

“As organisasie met die opdrag om burgerregte te beskerm, is AfriForum bekommerd oor die moontlike gevolge van skaliegasontginning in Suid-Afrika. In die huidige omstandighede en met die inligting tot ons beskikking is ons gekant teen hierdie vorm van skaliegasontginning in Suid-Afrika,” het Kleynhans gesê.

Die brief het die geleentheid geskep om belangrike aangeleenthede by te lê, onder meer betekenisvolle openbare deelname, die negatiewe impak van skaliegasontginning op infrastruktuur soos paaie, die risiko van besoedeling, die standaard van bedryfsbestuur en soortgelyke kwessies. Wêreldverslae oor die gevolge van skaliegasontginning en die gebrek aan behoorlike navorsing wek ook kommer.

“Daar word beweer dat hidrobreking Amerika se energieopbloei tot gevolg gehad het, maar die dinge wat ons nie weet oor hidrobreking nie is meer as die goed wat ons wel weet. Een ding weet ons beslis: Hidrobreking behels ʼn proses waardeur miljoene liter chemiese oplossing in die grond gepomp word, wat die potensiaal het om die drinkwater in die omgewing te besoedel. Om hierdie proses in die Karoo in te bring, waar daar reeds ʼn groot waterskaarste is, is omgewingselfmoord,” het Kleynhans bygevoeg.

Volgens Jonathan Deal, het die Associated Press verslag gedoen oor honderde klagtes oor grondwaterbesoedeling, waarvan ʼn hele aantal deur amptenare in die VSA bevestig is.

• In Pennsylvanië is ten minste 106 gevalle van die besoedeling van boorgatwater (uit 5000 gate) sedert 2005 aangemeld.
• In Ohio was daar 37 klagtes in 2010 maar geen bevestigde gevalle van besoedeling nie. In 2011 was daar 54 klagtes waarvan 2 gevalle bevestig is. In 2012 was daar 59 klagtes waarvan twee bevestig is en in die eerste 11 maande van 2013 is 40 klagtes aangemeld waarvan 2 bevestig is en 14 steeds ondersoek word.
• In Wes-Virginië is 122 klagtes oor besoedeling van grondwater gedurende die afgelope 4 jaar aangemeld, en in 4 gevalle was die getuienis sterk genoeg dat die mynmaatskappy regstellende optrede moes toepas, het amptenare gesê.
• Op ʼn sigblad vir Texas is daar meer as 2000 klagtes aangeteken waarvan 62 na bewering met die besoedeling van grondwater as gevolg van olie- en gasbedrywighede verband hou, sê Ramona Nye, ʼn woordvoerder vir die Railroad Commission of Texas, wat ontginning beheer.

“Die Alliansie sal sy stryd hierdie jaar voortsit vir die bewaring van die natuurlike hulpbronne in die Karoo en om volhoubare ontwikkeling dwarsdeur Suid-Afrika te bevorder ten einde langtermyn ekonomiese groei en die verantwoordelike benutting van die land se hulpbronne te verseker,” het Kleynhans afgesluit.

Ondersteun die Alliansie hierin. SMS “Karoo” na 37722. 50c/SMS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.