Alliansie teen Hidrobreking: “Eskom is desperaat”

Argieffoto

Argieffoto

Eskom se vasberadenheid om voort te gegaan met hidrobreking in Suid-Afrika wys hoe desperaat dié semi-staatsinstelling is om te ontsnap aan die energiekrisis wat dit vir die land geskep het.

“Ons aanvaar dat Eskom se hoof, mnr. Brian Dames se kundigheid om kommentaar te lewer oor Suid-Afrika se energiesamestelling, maar kan nie sy stellings oor hidrobreking ondersteun nie (‘hidrobreking kan gedoen word, en ons as Eskom glo vas dat dit gedoen moet word’ – Financial Mail 19 September 2013). In die lig van goed gedokumenteerde en toenemende gevalle wêreldwyd waar daar ʼn verbod, moratoria en beperkings daarop geplaas word, gevalle van burgerlike opstand in Latyns-Amerika, burgerlike optrede en betogings in Europa, landswye weerstand in Australië, en die VSA se Omgewingsbeskermingsagentskap (US EPA) se uitbreiding van hulle eie ondersoek na hidrobreking, kan ons nie die logika in mnr. Dames se standpunt sien nie,” het die Alliansie teen Hidrobreking in Suid-Afrika, AfriForum en die Treasure the Karoo Action Group (TKAG) gesê.

“Ten spyte van die Nasionale Beplanningskommissie (NBK) se aandrang op skaliegas-ontginning, erken selfs kommissaris Anton Eberhard dat natuurlike gas uit ander bronne verkry kan word as die ekstreme energie van Karoo-skaliegas,” het Jonathan Deal, voorsitter van TKAG gesê.

Die Alliansie is ten gunste van die insluiting van gas in Suid-Afrika se energiesamestelling en beskou natuurlike gas vanuit die see as ʼn haalbare alternatief, veral in die lig van die dringendheid van Suid-Afrika se behoeftes en koste per eenheid.

“Dit is alombekend dat die ontwikkeling vir die ontginning van skaliegas in die Karoo ten minste 12 jaar sal neem – terwyl gas uit die see deur Eskom benut kan word wanneer Eskom ook al gereed is daarvoor. Ons gee ons volle steun aan die NBK se benadering tot die ontwikkeling van gasinfrastruktuur om gebruik te maak van onmiddellik beskikbare bronne van die brandstof. Ons is van mening dat Eskom hierdie geleentheid moet benut, dat hulle selfs nog meer aandag moet gee aan die ontwikkeling van hernubare bronne van energie, en dat hulle die foute moet vermy van byvoorbeeld die BHP Billiton-fiasko, wat Suid-Afrikaners 11,5 miljard rand kos,” het Deal bygevoeg.

“Die regering het planne vir ʼn 20-jaar-energieplan van R1 triljoen, wat ʼn nuwe steenkoolaangedrewe kragstasie, ʼn kernfasiliteit en hidrobreking insluit. Ons is bekommerd oor die regering se beplanning. Hulle verbind hulle tot groen energie en volhoubare ontwikkeling tydens elke spitsberaad of internasionale vergadering oor die kwessie, maar hierdie planne weerspieël niks van ʼn groener en meer volhoubare toekoms nie,” sê Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake.

“Ons wil die regering aanmoedig om alternatiewe te vind en om geld te begin bestee aan hernubare-energieprojekte soos sonkrag. Hernubare energie is uitvoerbaar, betroubaar en beskikbaar – al wat kortkom, is die politieke wil in Suid-Afrika,” het Kleynhans bygevoeg.

“Bronne wys daarop dat Duitsland, wat Europa se grootste ekonomie is, reeds 25% van sy elektrisiteit uit hernubare bronne kry, en dat hulle beplan om daardie persentasie te verhoog tot 80% teen 2050. Suid-Afrika moet hierdie voorbeeld volg om ʼn groener nalatenskap te bewerkstellig,” het Kleynhans gesê.

Om lid te word van AfriForum, SMS “Karoo” na 31336. 50c/SMS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vas Vat ·

En verder gaan die kragpryse elke jaar op,wat word van Medupi…Gaan dit ook op die einde van die dag n wit olifant word.Wonder maar net ???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.