Alliansie vasbeslote om regering te stuit oor hidrobreking in die Karoo

'n Uittreksel uit die video

‘n Uittreksel van die video

‘n Video oor wat hidrobreking vir die Karoo sal inhou volg onderaan die berig.

Met verwysing na die regering se oogmerk om voor die 2014-verkiesing met skaliegasontginning te begin, het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, Donderdag teenoor die media bevestig dat AfriForum verbind is daartoe om die regering te stuit. “Ons wil dit duidelik stel: Die Alliansie se standpunt is gegrond op deurdagte regsmenings en ons is vasbeslote om vas te skop hieroor.”

“Ons sal nie deur ondeurdagte stellings, leë beloftes oor deelname en drogpraatjies deur die land se leiers om die bos gelei word nie. Hierdie aangeleentheid kan ʼn groter impak hê as enige ander omgewingskwessie met betrekking tot fossielbrandstof wat die wêreld ooit gesien het,” het Kleynhans gesê.

AfriForum het ook vandag ʼn video op YouTube geplaas ter ondersteuning van sy veldtog, waarin die publiek ‘n glimp gegee word van wat hidrobreking in die Karoo sal inhou [karoo.fracking.co.za].

Kleynhans is ondersteun deur die HUB van Treasure the Karoo Action Group (TKAG), Jonathan Deal, wat ʼn eweknie-evaluering van die Econometrix-verslag oor skaliegasontginning bekendgestel het. Die verslag is in 2012 deur Royal Dutch Shell aangevra en bekendgemaak. Die studie is met entoesiasme begroet deur diegene ten gunste van hidrobreking in die Karoo. Deal het gesê dat internasionale en versiende ekonome se opvattings lynreg verskil van die gevolgtrekkings in die Econometrix-verslag en dat die dokumente wat deur die Alliansie beskikbaar gestel word ten minste ʼn behoorlike grondslag sal skep vir ʼn volledige ekonomiese model wat in Suid-Afrika aangewend kan word.

“Dit is ʼn skreiende verleentheid dat die regering van Afrika se grootste moondheid so goedgelowig kan wees.” Deal sê dat selfs ʼn klein NRO soos TKAG behoorlike navorsing oor skaliegasontginning kan onderneem, en dat die regering “moet besin en verskeie belangegroepe by ʼn omvattende studie van elke aspek van hierdie besluit moet betrek.”

“Dit is nie genoeg om die leë beloftes te glo van groot maatskappye wat met die toekoms van hierdie land dobbel terwyl hulle hulself verryk nie,” het hy afgesluit.

Die Alliansie het sy stellings gestaaf deur ʼn opsomming van die teenargumente teen die Econometrix-verslag en ʼn oudio-visuele voorlegging aan te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.