Alternatiewe energie-ekspo gaan van krag tot krag

KragDag vind van 9 tot 12 Augustus plaas. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die voortdurende groei van KragDag is nie bloot die gevolg van die ewigdurende krisis van staatsverval by Eskom nie, maar eerder die onwrikbare strewe na meer selfstandigheid en voorspoed vir besighede en gemeenskappe.

Só sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, oor dié unieke alternatiewe energie-ekspo waarvan Sakeliga die hoofborg is én wat jaarliks met toenemende uitstal- en bywonersgetalle groei.

Die 14de KragDag word vanjaar oudergewoonte op die Diamantvallei-landgoed, sowat 20 km oos van Pretoria, aangebied en is die grootste plaaslike uitstalkas vir energie- en ander selfstandigheidsoplossings rakende die land se verlammende kragkrisis.

Met die openbare vakansiedag op 9 Augustus is die KragDag-ekspo die eerste een om van drie na vier dae verleng te word – tot 12 Augustus. Die eerste Wes-Kaapse KragDag is in Februariemaand by die M֧ôreson-plaas buite Malmesbury aangebied.

Benewens die feit dat derduisende ondernemings en besoekers hierby baat, sê Le Roux is die orde en voorspoed wat deur dié ekspo gekweek word, ʼn uitkringende verskynsel wat ten einde voordelig vir groter gemeenskappe ook is.

“Wat is dit dan anders as ʼn metaforiese kragstasie – die tema van vanjaar se Ekspo?”

Meer as 600 ondernemings wat op die een of ander wyse op hernubare en alternatiewe energie fokus, span vanjaar uit oor dié ekspogronde, wat die oppervlakte van twaalf rugbyvelde beslaan. Dít sluit ʼn opvoedkunde sub-ekspo, entrepreneurskap en sedert 2019 ook ʼn volwaardige landbou ekspo in samewerking met die Transvaalse Landbou-unie (bekend as TLU SA) in.

Johan Cloete van TheSunPays, ʼn invoerder en verspreider van sonkragtoerusting vir residensiële en kommersiële gebruik, stal hul produkte sedert die heel eerste KragDag-ekspo uit, en meen hy daar word vanuit dié industrie toenemend moeite gedoen om alternatiewe energie-opsies so bekostigbaar moontlik vir verbruikers te maak.

“Die prys van sonpanele het die in die afgelope drie maande met 30% gedaal. Omskakelaars en kragopwekkers se prys het ook met nagenoeg 15% gedaal. Dit gaan ook nie meer vir mense net oor beurtkrag nie, maar eerder die besef dat sonenergie goedkoper en meer volhoubaar is.”

Hy benadruk egter dat diegene wat hul huise van Eskom wil verlos, deeglike navorsing moet doen en meen KragDag bied juis die perfekte geleentheid om produkte en diensverskaffers te vergelyk.

Volgens Cloete belê al hoe meer “gewone” middelklas huishoudings in sonenergie-kragvoorsiening vanweë die veelsydige en pasgemaakte opsies wat danksy dié groeiende mark beskikbaar is.

“Onthou, die son betaal. Dit is nou ʼn groot belegging wat later vir homself betaal. Selfstandigheid is die toekoms, as jy dit nog nie agtergekom het nie, gaan jy agtergelaat word.”

Benewens uitstallers kan besoekers ook uitsien na verskeie aktuele gesprekke met ekonomiese, politiese, landbou én energiekenners wat onderwerpe soos koalisies, staatsverval en kragopwekking op gemeenskapsvlak sal takel.

Hoewel die kollig op alternatiewe energie en oplossings is, kan besoekers hul leersame dag in ʼn karnaval-atmosfeer met groot hoeveelhede vermaak beleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rupert Ashford ·

Pryse het 30% en 15% gedaal…kan ons asb meer inligting kry. Wat was die begin prys voor die daling, en wat is dit na die daling? Wat beteken dit in prys per kWh en hoe vergelyk dit met prys per kWh van Eksdom (wanneer die krag beskikbaar is bygese :-)? Hoe lank hou die sisteme en wat kos dit om dit te vervang? Wat word met die stukke gedoen wat einde van hulle lewensiklus bereik het nadat dit vervang is?

Theuns ·

Kommentaar is oningelig. Wat kos ‘n paneel voor die “daling” en wat kos dit nou?
Soveel snert word uitgespoeg jy voel nie lus om tussen die slym kolle te loop .
Berig help NIKS om te help met besluite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.