Amcu nou meerderheidsvakbond by Lonmin

Amcu-ondersteuners Foto: Sowetan / Tsheko Kabasia

Die mynmaatskappy Lonmin en Amcu het Woensdag ‘n ooreenkoms bereik wat dié vakbond as die meerderheidvakbond by die maatskappy erken.

Ben Magara, hoof uitvoerende beampte van Lonmin, het gesê hy is “verheug” oor die erkenningsooreenkoms wat in Johannesburg onderteken is. “Dit is uitstekende nuus vir Lonmin, vir ons werknemers en vir al ons aandeelhouers,” het Magara gesê.

Joseph Mathunjwa, president van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het gesê sonder samewerking sou albei partye verloorders gewees het. “As leiers moet ons seker maak dat ons vreedsaam en stabiel vorentoe kan beweeg,” het Mathunjwa gesê.
Magara sê Lonmin het die ooreenkoms met die National Union of Mineworkers (NUM) bespreek, wat vroeër die meerderheidsvakbond by die maatskappy was. “Ons het gesprekke gehad, ons het vergader om seker te maak dat ons al die aandeelhouers se ondersteuning het, insluitend Frans Baleni (uitvoerende hoof van NUM) en die NUM se ondersteuning,” het Magara gesê.

NUM het in Julie ‘n aansoek ingedien om Lonmin te verhoed om hom as die meerderheidsvakbond te deregistreer. Dié aansoek is egter deur die arbeidshof in Johannesburg van die rol geskrap. NUM het aangevoer hy het onreëlmatighede in die oordrag van sy lede na Amcu bespeur. Die vakbond is tyd gegun om meer lede te werf om sy meerderheidstatus te behou, of om sy kantoor by Lonmin te ontruim. Dié kantoor word by elke skag aan die meerderheidsvakbond verleen terwyl alle ander vakbonde een kantoor deel.

Lonmin en Amcu sê dit is betekenisvol dat die ooreenkoms so naby aan die herdenking van die gewelddadige skietery by Lonmin se myn in Marikana verlede jaar onderteken word. Altesaam 34 mense, meestal stakende myners, is op 16 Augustus 2012 doodgeskiet nadat die polisie op hulle losgebrand het. Tien mense, insluitend twee polisiebeamptes en twee sekuriteitswagte is die week tevore in stakingsverwante geweld dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.