Amcu-onderhandelings duur voort

Joseph Mathunjwa van Amcu by die onderhandelings Foto: Meggan Saville/SAPA

Joseph Mathunjwa van Amcu by die onderhandelings Foto: Meggan Saville/SAPA

Onderhandelinge het Vrydag by die KVBA se kantoor in Johannesburg begin om ʼn oplossing te vind vir Amcu se staking in die platinumsektor.

Susan Shabangu, minister van minerale hulpbronne, Mildred Oliphant, minister van arbeid, senior bestuurslede van Impala Platinum, Lonmin en Anglo American Platinum en verteenwoordigers van Amcu het omstreeks 11:30 met die onderhandelinge begin.

Joseph Mathunjwa, president van die Assiociation of Mineworkers and Construction Union (Amcu), is deur dosyne lede van die vakbond vergesel.

Die partye het Vrydagoggend glo eers afsonderlik vergader voor die onderhandelinge by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) begin het. ʼn Amcu-tak was glo laat en het die onderhandelings effens vertraag.

Die staking is nou in sy tweede dag by die onderskeie myne. Amcu dring aan op ʼn intreevlak-salaris van R12 500.

Die regering het aangebied om by die onderhandelinge betrokke te raak.

Chris Griffith, hoof uitvoerende beampte van Amplats, Terence Goodlace, hoof uitvoerende beampte van Implats, en Ben Magara, hoof uitvoerende beampte van Lonmin, het gesê ʼn volgehoue staking sal moontlik Suid-Afrika se beeld as ʼn aanloklike sake- en beleggingsbestemming skade berokken.

Die Business Day het Vrydag berig dat analiste sê die platinumstaking is een van die faktore wat die rand teenoor die dollar laat verswak het. Die wisselkoers was Donderdag vir die eerste keer in vyf jaar op sy swakste teen die Amerikaanse dollar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.