Amcu-staking duur steeds voort

Amcu-lede

Amcu-lede Foto: nowry.co.za

Impala Platinum (Implats) het Vrydag gesê die drie platinummynmaatskappye en die vakbond Amcu het nog nie ʼn ooreenkoms bereik om die staking te beëindig nie.

“Ons is teleurgesteld dat ons nog nie die huidige loonstaking kon oplos nie,” het Terence Goodlace, hoof uitvoerende beampte van Implats, in ʼn verklaring gesê. Die maatskappye bly toegewyd om met die vakbond te onderhandel om seker te maak dat ʼn oplossing gevind word wat die werkers tevrede sal stel en poste sal behou.

Lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) staak al sedert 23 Januarie by Lonmin, Anglo American Platinum (Amplats) en Implats. Hulle dring aan op ʼn basiese intreevlaksalaris van R12 500 per maand.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) is al sedert 24 Januarie by die onderhandelings betrokke.

Die werkgewers het verlede maand ʼn driejaar-ooreenkoms voorgestel wat glo uiteindelik myners se salarisse tot by R12 500 sal verhoog. Implats het aangebied om die minimum maandelikse gewaarborgde pakket te verhoog sodat oppervlakwerknemers binne die drie jaar van R8 641 na R10 915 sal verhoog. Ondergrondse werkers se pakkette sal oor dieselfde periode van R9 297 na R11 746 verhoog. Die drie maatskappye sou, kragtens die voorstel, hul gekombineerde uitgawes op lone en voordele in die eerste jaar met R2 miljard verhoog.

Implats het aangedui die platinumbedryf het verlede jaar ongeveer R4.3 miljard verloor. Sedert die Amcu-staking het die maatskappy reeds R1.38 miljard verloor.

Die KVBA het Vrydag in ʼn verklaring gesê hy het Donderdag met Amcu-verteenwoordigers vergader en sal die platinumvervaardigers Maandag sien.

Amplats het verlede Saterdag gesê hy beplan om Amcu te dagvaar vir skadevergoeding en verlies aan inkomste weens die staking. Die voorlopige skadevergoedingseis beloop nagenoeg R591 miljoen.

Lees ook:
Amcu-staking: Amplats dagvaar vir miljoene
AMCU-staking: Onderhandelinge met KVBA hervat
Platinumfirmas gaan KVBA glo alleen raadpleeg
Amcu-betoger glo deur polisie doodgeskiet
Amcu-lid vas vir saakbeskadiging
Amcu-staking: Lede gaan nuwe aanbod verwerp
Amcu-staking: Laaste dag van gesprekke
Amcu-staking gaan voort
Amcu-onderhandelings duur voort
Amcu-staking: Drama by Amplats
Partye vergader op dag twee van Amcu-staking
Amcu stem in tot verdere onderhandelinge
Amcu-staking: “Lonmin het busse gestop”
Stakende mynwerkers kom by Marikana-stadion byeen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.