Amcu-staking: KVBA berei voor vir onderhandelinge

goudDie KVBA berei hom voor om ʼn dispuut op te los voor die vakbond Amcu se beplande staking in die goud- en platinumsektore.

“Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) berei ʼn mediasiespan voor om die dispuut op te los,” het die kommissie in ʼn verklaring gesê. “Ons glo dat ʼn versoening in die belang is van alle partye en die land in sy geheel en ons is vol vertroue dat ons só ʼn oplossing sal kan bereik.”

Amcu-lede het Woensdag die Johannesburgse arbeidshof genader vir ʼn regsgeding oor hul beplande staking by goudmyne.

Die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het Maandag gesê hy gaan in die platinum- en goudsektore staak nadat hy die onderskeie werkgewers in ʼn kennisgewing hieroor ingelig het. Die vakbond eis ʼn intreevlak-salaris van R12 500.

Die Kamer van Mynwese, wat goudproduseerders verteenwoordig, het gesê hy sal die hof nader, aangesien hy van mening is dat ʼn staking in dié sektor onwettig is en sal vergoeding van die vakbond eis.

Charmane Russell, woordvoerder vir die goudproduseerders, het gesê ʼn “vredesklousule” is verlede jaar onderteken om Amcu te verhoed om weer te staak.

ʼn Twee-vlak-loonooreenkoms is op 10 September met drie van die vier vakbonde in die sektor gesluit, naamlik die National Union of Mineworkers (NUM), Uasa en Solidariteit. Dié drie vakbonde verteenwoordig 72% van werknemers in die goudsektor. Amcu het tydens die onderhandelinge 17% van die werknemers verteenwoordig. Amcu het aan die sentralevlak-onderhandelinge deelgeneem, maar wou nie die ooreenkoms aanvaar nie.

Amcu-lede het egter intussen voordeel getrek uit die uitslag van die loononderhandelinge.

Platinumproduseerders het Woensdag voorberei vir Amcu se staking. “Ons verwag steeds die staking môre [Donderdag], maar onderhandelinge duur voort,” het Sue Vey, woordvoerder vir Lonmin Platinum, gesê. Anglo American Platinum en Impala Platinum het ook bevestig onderhandelinge duur voort.

Amcu was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

GawieM ·

Hier kom nog afdankings. Wonder wanneer Zuma met sy 30 miljoen werksgeleenthede se aanstellings begin?

Ai-tog ·

Seker eers oor 50 jaar want vir nou is dit eers net 6 mil werksgeleenthede vir die volgende 5 jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.