Amerika op hoë gereedheid vir moontlike terreuraanvalle

President Barack Obama

Amerikaanse president Barack Obama en top nasionale veiligheidsbeamptes het oor die naweek in die Withuis vergader om dreigemente van terreuraanvalle in Augustus te bespreek, berig Fox News.

Amerika het Vrydag ʼn wêreldwye reiswaarskuwing aan alle Amerikaners en Amerikaanse ambassades uitgereik om vir moontlike Al Qaeda-gedrewe aanvalle, veral in Noord-Afrika en die Midde-Ooste, gereed te wees. Tydens die vergadering in die Withuis is daar oor die moontlikheid gepraat om verskeie Amerikaanse-ambassades vir ʼn onbepaalde tydperk te sluit. Die Withuis het nie in diepte oor dié dreigemente uitgebrei nie.

“Die president het verlede week die nasionale veiligheidspan opdrag gegee om alle moontlike stappe te doen om Amerikaners in die lig van die moontlike bedreiging, wat uit die Arabiese Skiereiland voortspruit, te beskerm,” het die Withuis Sondag in ʼn verklaring gesê.

ʼn Groep adviseurs het Sondag verder vergader om die situasie en opvolg-aksies te bespreek.

Tom Rooney, ʼn lid van die Withuis se intelligensiekomitee, het aan Fox News gesê agente het van “gesprekke” per telefoon, internet en rekenaar- en ander kommunikasieafsetpunte afgelei dat ʼn “baie spesifieke dreigement” die ronde doen.

ʼn Senior Amerikaanse beampte het gesê Amerikaanse magte is al vir ʼn geruime tyd gereed om te reageer op moontlike gebeurlikhede in die Midde-Ooste en Noord-Afrika.

CBS News het berig dat intelligensiebeamptes bewus is van ʼn dreigende komplot.

Talle ambassades wat gewoonlik op Sondae oop is, was gister gesluit. Ambassades in onder andere Jemen, Engeland en Duitsland is vir ʼn onbepaalde tyd gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.