“Amerikaanse aanval op Sirië kan tot kernramp lei” – Rusland

syria‘n Russiese waarskuwing dat ‘n Amerikaanse-geleide bomaanval op Sirië tot ‘n kernramp kan lei, laat die wenkbroue lig.

Volgens die waarskuwing van die woordvoerder van die Russiese Departement van Buitelandse Sake kan kernbesoedeling volg as die kernreaktor by Damaskus, of “ander kerninstallasies” in die gebied, deur die bombardement geraak word. Volgens sommige berigte het die Russiese waarskuwing net na die kerngevaar by Damaskus verwys, en na die algemene gevolge van aanvalle elders in die land. Die algemene verwysing na atoom-implikasies in die streek as geheel, is egter baie ernstig.

Die internasionale gemeenskap en die Internasionale Atoom-energie-agentskap (IAEA) is bewus van die SRR-1 navorsingsreaktor wat China met die medewerking van die IAEA opgerig het.

Maar die verwysing na “ander kerninstallasies in Sirië” wek groot kommer.

Israel het in September 2007 ‘n vermeende kernaanleg in Sirië gebombardeer. Hoewel Sirië die gebou as ‘n ongebruikte militêre installasie beskryf het, is min samewerking aan die AAEA verleen om Israel se aansprake te toets. Inspekteurs het wel later op die toneel spore van natuurlike uraan-partikels gevind.

Israel het hierna lugfoto’s versprei waarop nog vier vermeende kerninstallasies aangedui is. Hulle was blykbaar almal opgerig om as ondersteuningsgeriewe vir die verwoeste aanleg te dien. Pres. Bashar al-Assad weier volstrek dat die installasies geïnspekteer kan word.

Sedert daar met die oprigting van die Chinese aanleg in 1991 begin is, het Westerse lande voortdurend kommer uitgespreek dat daar ander, minder vreedsame projekte kan voortspruit.

Die algemene oordeel is dat Sirië nie self oor die infrastruktuur en tegnologie beskik om ‘n eie kernprogram aan te pak nie. Sirië, in samewerking met die IAEA, is by talle projekte betrokke waar kerntegnologie vir vreedsame doeleindes ingespan word, soos in die mediese wetenskap en landbou. Die soort projekte kan egter beswaarlik ‘n kernramp tot gevolg hê as hulle beskadig sou word.

Die IAEA het laat blyk dat hy ondersoek na Rusland se uitsprake sal doen – mits hy daartoe versoek word deur Rusland. Luidens die meeste berigte is dit egter in effek presies wat Rusland versoek het – dat die IAEA ondersoek moet instel na die risiko’s was ‘n beskadiging van die mini-aanleg by Damaskus kan inhou.

Volgens die Russiese nuusdiens, Interfax, wil Rusland die saak volgende week by ‘n vergadering van die IAEA te berde bring. Rusland en China is bondgenote van Assad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JAVR ·

Hier kom k.k met die Amerikaners en hulle flippen trigger happy vingers! Ai!! Nie dat die Russe veel kalmer is nie! HKGK!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.