Amerikaanse Fed kry eerste vrou as hoof

Janet Yellen

Janet Yellen

Janet Yellen, adjunk-voorsitter van die Amerikaanse Fed, se aanstelling as nuwe hoof is Maandag deur die senaat goedgekeur.

Sy sal op 1 Februarie by Ben Bernake oorneem. Hiermee word sy een van die magtigste vroue op aarde wat ‘n groot impak gaan uitoefen oor hoe goed die wêreldekonomie gaan verbeter.

Yellen, ‘n voormalige akademikus, kan as beroepsekonoom van die Fed beskou word waar sy sedert 1994 in die bestuur dien, na sy in die 1970s ook vlugtig haar sout by die Fed verdien het. Sy is getroud met die ekonoom, George Akerlof wat in 2001 die Nobelprys ingepalm het.

Die aanspreek van werkloosheid, eerder as die bekamping van inflasie deur manipulasie deur die Fed, word as Yellen se grootste prioriteite beskou. Sy word as ‘n navolger van die ekonomiese filosoof John Maynard Keynes beskou.

Kollegas beskryf haar as ‘n klein mensie met ‘n groot IK. Haar groot uitdaging gaan wees om die Fed-goewerneurs, wat algaande al hoe onafhankliker geword het, as ‘n span te laat saamtrek. Hiervoor meen kollegas is sy baie goed toegerus. Sy verkies om haar met die knapste mense te omring, na hul standpunte te luister, leemtes in hul argumente te bevraagteken en uiteindelik haar eie besluite te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.