Amerikaner in JHB vermoor

Amerikaanse konsulaat-kantoor in Johannesburg

‘n Werknemer van die Amerikaanse konsulaat is Sondag in Johannesburg vermoor.

“’n Werknemer van die Amerikaanse regering is Sondagoggend in Johannesburg vermoor. Hy het by die Amerikaanse konsulaat in Johannesburg gewerk,” het Jack Hillmeyer, woordvoerder vir die Amerikaanse ambassade, gesê. Die man se naam kan nie bekendgemaak word voordat die ambassade sy familie in kennis gestel het nie.

Die Franse nuusagentskap, Agence France Press, het berig dat hy in die konsulaat se IT-afdeling gewerk het.

“Die 41-jarige man en ‘n 29-jarige vrou het omstreeks 03:00 by ‘n woonstel in Oxford Gardens, Illovo, opgedaag,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê. “’n Sekuriteitswag het gehoor hoe die vrou gil en gaan ondersoek instel. Sy het met ‘n mes in haar hand gestaan. Die man is met die mes gesteek.”

Volgens Dlamini het die man op die toneel gesterf. Die polisie het die vrou in hegtenis geneem en beslag gelê op die beweerde moordwapen. Die motief vir die moord word ondersoek. Die vrou sal Maandag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.