Amper-pa deur rowers doodgeskiet

Johan Erasmus (40) is Saterdag dood nadat hy sy lewensmaat en haar kinders probeer beskerm het teen ʼn groep rowers by hul huis in Rietvlei in Pretoria.

Pretoria News berig dat Erasmus in die kop geskiet is en ure later aan sy beserings beswyk het. Erasmus se lewensmaat, Aneke Gardiner, sê sy het omstreeks 02:00 Saterdagoggend wakker geword toe sy mense hoor praat het buite hul kothuis op ʼn kleinhoewe naby Stone Cradle. Gardiner sê sy het Erasmus wakker gemaak, waarna hy gaan ondersoek instel het en een van die rowers in die huis aangetref het. Die rower het glo deur ʼn venster toegang tot die huis verkry terwyl die ander vier rowers die deur probeer afbreek het. Gardiner het intussen na haar twee kinders, Aidan (5) en Mike (8), se kamer gehardloop en hulle na haar en Erasmus se slaapkamer geneem. Gardiner sê die rowers het hulle skootrekenaars en ander goedere geëis. Sy sê Erasmus het aan haar geskree om die skootrekenaar af te bring toe sy ʼn skoot gehoor en gesien het hoe hy op die grond neerval. Die rowers het Gardiner se selfoon, ʼn televisie en ʼn skootrekenaar gevat voor hulle gevlug het. Gardiner sê haar twee seuns het haar gehelp om Erasmus na die motor te dra sodat hulle hom hospitaal toe kon neem. ʼn Ambulans het egter opgedaag nadat ʼn buurman hulp ontbied het. Erasmus is sowat vier uur later in die Kalafong hospitaal oorlede. Erasmus en Gardiner se eersteling word in September gebore. Volgens die berig is niemand nog in hegtenis geneem in verband met Erasmus se moord nie.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.