Amplats-staking beëindig

Argieffoto

Werkers by Anglo American Platinum (Amplats) se Thembelani- en Khuseleka-myne het Dinsdag weer teruggekeer werk toe.

“Alles het nou teruggekeer na normaal, almal is op hul pos,” het Bongeka Lwana, woordvoerder vir die maatskappy, gesê.

Amplats het Maandag gesê sowat 5 600 werkers het aan die staking by die twee myne deelgeneem. Werkers het geëis dat die besluit om 19 verteenwoordigers van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) te skors, teruggetrek moet word. Die verteenwoordigers het glo aan ʼn onwettige betoging deelgeneem.

Werkers het ook geëis dat die maatskappy die huidige artikel 189-proses moet opskort en met loononderhandelinge moet voortgaan.

“Hulle het ook geëis dat die maatskappy ʼn waarborg moet gee dat die National Union of Mineworkers (NUM) nie toegelaat sal word om aan die onderhandelinge deel te neem nie,” het die maatskappy Maandag in ʼn verklaring gesê.

Joseph Mathunjwa, president van Amcu, het Dinsdag bevestig dat die werknemers teruggekeer het. “Hulle het Dinsdag aangemeld vir werk,” het hy gesê.

Lwana het gesê sy kan nie bevestig of die verteenwoordigers teruggekeer het werk toe nie. “Die maatskappy vergader steeds met vakbond-leierskap,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.