ANC-beleidskonferensie skop agter geslote deure af

Nasionalisering en grondhervorming is twee van die kwessies wat na verwagting groot aandag sal geniet by die ANC se beleidskonferensie wat Dinsdag by Gallagher Estate, Midrand, open.

Die konferensie open met ʼn oop sessie deur president Jacob Zuma, waarna die sowat 3 500 afgevaardigdes vir die res van die konferensie agter geslote deure sal vergader. Inligting na buite sal deur woordvoerders gefilter word, maar die verwagting is dat die verskeie belangegroepe wat die konferensie bywoon, met hul eie invalshoeke inligting na buite sal lek.

Alle aanduidings is daar dat afgevaardigdes gaan aandring op groter staatsinmenging in die ekonomie, veral in sektore soos die bank- en mynwese. In die lig hiervan het Agri SA die regerende party gevra om ekonomiese groei voorop te stel, en om die landbousektor se bydrae tot werkskepping, armoedeverligting en huishoudelike voedselsekerheid nie lig te ag nie.

Insette op drie van die ANC se hoofbeleidsdokumente, naamlik organisatoriese vernuwing, strategie en taktiek, staatsingryping in die mynbedryf, en die nasionale ontwikkelingsplan en kommissieriglyne sal van die afgevaardigdes ontvang word.

Op die derde en vierde dag sal kommissies terugvoer gee, waarna die konferensie Donderdag met die enigste ander oop sessie van die geleentheid deur Zuma afgesluit sal word.

Nog ʼn kwessie wat na verwagting konflikterende menings sal ontlok, is of die bespreking van die opvolgstryd toegelaat sal word. Zuma se teenstanders vra bespreking, maar Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het Maandag reeds gesê dat die konferensie nié op die opvolgstryd sal fokus nie.

Intussen het die ANC Maandag reeds laat blyk dat hulle met dié konferensie ʼn nuwe koers gaan inslaan, en dat moeilike besluite geneem sal moet word om die “tikkende tydbom” – armoede, werkloosheid en ongelykheid – effektief aan te spreek.

“Robuuste debat sal die konferensie interessant hou,” het Mantashe gesê.

Jeff Radebe, die ANC se beleidshoof, het vooraf gewaarsku dat enige vorm van wangedrag nie geduld sal word nie.
Die beleidskonferensie dien as voorbereidende konferensie vir die ANC se nasionale verkiesingskonferensie wat in Desember in Mangaung gehou word.

• Die dagblad Rapport het ʼn opsomming gemaak van die kwessies wat na verwagting by die beleidskonferensie aandag sal geniet. Lees dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.