ANC-beleidskongres: Dag drie

Die media het vanoggend oor die algemeen versigtig-optimisties gereageer op aangekondigde besluite oor ANC-beleidskwessies wat uit die kongres te Midrand filtreer. Die kongres eindig vandag.

Veral die besluit om die beleidsdokument oor ‘n tweede oorgang te verwater, en die onderneming dat die grondwet nie verander sal word om grondhervorming te versnel nie, is verwelkom.

Dit word as insiggewend beskou dat die kongres die tweede oorgang herbewoord het na “tweede fase”. Pres. Jacob Zuma het homself sterk vereenselwig met die oorspronklike dokument, en is hierin sterk deur die provinsies wat hom steun, KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Mpumalanga, ondersteun. Die gewysigde dokument hou egter, volgens minister Jeff Radebe, steeds groot implikasies in. Media 24 haal hom soos volg aan: “Hierdie tweede fase moet gekarakteriseer word deur meer radikale beleide om ekonomiese en sosiale verandering mee te bring om armoede, ongelykheid en werkloosheid aan te spreek.”

‘n Lid van die ANC se uitvoerende komitee en minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba sê aldus RSG besprekings rondom die regerende party se ekonomiese beleid moet nie die skuld kry vir die sakesektor se huiwering om verder in die land te belê nie. Hy beweer dat dié huiwering as gevolg van die huidige ekonomiese klimaat is. Gigaba het in die wandelgange by die ANC se beleidskonferensie in Midrand gepraat. Hy sê die regering sal in staat wees om te voldoen aan die toenemende eise van ‘n groeiende ekonomie.

Die Burger maan in sy hoofartikel die ANC om nie die kwessie van armoede te reduseer tot ‘n wit-swart-aangeleentheid soos Zuma gedoen het nie. Die koerant skryf: “Die verskil tussen ryk en arm is reusagtig, veels te groot. Saam met die ANC se verregaande onvermoë om meer as lippediens aan armoede bestryding te doen, skep dit, soos prof. Sampie Terreblanche onlangs tereg aangedui het, genoeg plofstof vir ’n groot ontploffing.

Die ANC se begeerte om swart mense meer in die ekonomie te laat deel, het tot dusver neergekom op die verryking van ’n betreklike klein groep swart miljoenêrs wat nie verdere hulp nodig het nie, maar wel daarop aanspraak maak. Kléúr moet dus nie die kriterium wees nie, maar armoede as sodanig. En let daarop: Armoede en rykdom ken geen kleur nie.

Verder moet die ANC versigtig wees om nie die kundigheid en ervaring van wit mense – al is hulle deur historiese omstandighede bevoordeel – te versmaai nie. As dit die ANC werklik erns is om swart armoede aan te pak, moet hy hande met die wit gemeenskap vat.”

‘n Vroeëre toespraak deur die minister van Landbou, Tina Joemat Pettersson, waarin sy die onteiening van grond voorgestaan het, is later baie afgeskaal toe sy tydens die nuuskonferensie verseker het daar is geen manier waarop die ANC die boere wil destabiliseer nie: “Ons is vasberade om voedselsekuriteit te verseker. Ons het nie nodig om die Grondwet te verander nie.”

Beeld kritiseer in sy hoofartikel vir Zuma omdat hy, eerder as om almal op te roep om die land se probleme aan te pak, sommiges as die probleem tipeer:  “As Zuma die skikking van 1994 – en dus die Grondwet wat dit beliggaam – die skuld daarvoor gee dat sy regering nie genoeg kan doen om armes se lewenspeil te verbeter nie en dat ’n “tweede oorgang” daarom nodig is en as hy in dieselfde asem kla dat wit mans die ekonomie beheer, verdeel hy, skep onsekerheid en skend vertroue.”

Verskeie koerante meld ook dat baie van die afgevaardigdes min moeite gedoen het om hul geïrriteerdheid met Zuma se ondersteuners te toon, wat openlik die verbod op die bevordering van kandidate vir die leierskapsverkiesing later vanjaar ignoreer.

Die kongres word nog grootliks deur die buitelandse media geïgnoreer, wat nou veel meer aandag skenk aan die magsopbou weerskante van die Turks-Siriese grens.

Intussen het die dringende aansoek in die Vrystaatse Hooggeregshof teen die hou van Vrystaatse kongresse misluk. Die regter het bevind dat die aansoekers hul aanspraak op dringendheid verbeur het deur te wag tot dit mosterd na die maal was. Die meriete van die aansoek is nie oorweeg nie, en die saak kan nou as gewone saak op die hofrol geplaas word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Hoofnuus, Nuus, SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae