ANC beskerm homself teen DA-optog

Die DA is gereed om te betoog al is daar teenkanting. Foto: Mabine Seabe II ‏@Mabine_Seabe / Twitter

Die DA is gereed om te betoog al is daar teenkanting. Foto: Mabine Seabe II ‏@Mabine_Seabe / Twitter

Die ANC-jeugliga en Young Communist League (YCLSA) gaan Woensdag ʼn menslike ketting om die ANC se hoofkantoor by Luthuli House vorm voor die DA se betoging vir “ware” poste afskop.

Die ANC  het ook vroeg Woensdagoggend ʼn dringende versoek by die Johannesburgse hooggeregshof ingedien in ʼn poging om ʼn beskermingsbevel teen die DA te bekom om hul hoofkantoor te beskerm. Die stappe is gedoen al is die DA se betoging se eindpunt deur die Johannesburgse metropolisie van Luthuli House na Beyers Naude-plein herlei.

“Ons het ʼn plig om ons hoofkantoor, ons lede en bates te beskerm,” het Jackson Mthembu, die ANC se woordvoerder, Woensdag omstreeks 07:00 gesê. “Ons sê nie dat hulle nie ʼn betoging mag hou nie, maar as hulle ʼn gevaar vir ons hoofkantoor inhou, wat anders kan ons doen?”

Hy het gesê die beskermingsbevel is nodig omdat die DA die dienste van ‘n sekuriteitsfirma “wat tot die tande toe gewapen is” met knuppels, helms en skilde bekom het.  Mthembu het gesê die ANC is vol vertroue dat hulle die aansoek gaan wen.

Intussen sê Mzwandile Masina, die nasionale sameroeper van die jeugliga, dat die DA se betoging ʼn uitlokkend is. “Die jeugliga sal in sy volle mag ʼn menslike ketting rondom ons hoofkantoor vorm om Luthuli House te beskerm,” het Masina gesê.

Die YCLSA het op sy beurt gesê die ANC het baie vir die land oor die afgelope 20 jaar gedoen om die lewensgehalte van Suid-Afrikaners te verbeter.

Cameron Arendse, woordvoerder vir Helen Zille, leier van die DA, het gesê hulle het ook ʼn verteenwoordiger in die hof en sal veg vir hul demokratiese reg om te betoog. Arendse het herhaaldelik gesê die betoging sal vreedsaam wees. “Enige veiligheidsmaatreëls wat ons getref het is vir verdediging en nie om aan te val nie,” het Arendse gesê. “Dit is as voorsorgmaatreël getref om die 6 000 deelnemers, wat uit lede en aktiviste bestaan, te beskerm.” Hy het ook gesê die party is bewus van die onvermoë van die polisie en die Johannesburgse metropolisie om die deelnemers te beskerm. Die DA het vroeër gesê elke persoon van die 6 000 deelnemers verteenwoordig 1 000 werklose mense.

Die DA se optog begin Woensdag om 10:00 by die Westgate-vervoersentrum in Johannesburg. Die departement van gemeenskapsveiligheid in Gauteng het gesê sommige paaie sal gesluit wees. Dié paaie sluit Miriam Makebastraat, Marshallstraat, Harrisonstraat en paaie in en rondom Beyers Naude-plein in. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.