ANC beskuldig Zille van rassisme na Twitter-opmerking

Betogers versper 'n pad in Grabouw met brande bande en klippe. Foto: SAPA

Die ANC het die premier van die Wes-Kaap, Helen Zille, van rassisme beskuldig na ʼn opmerking wat sy op die sosiale netwerk Twitter gemaak het, waarin sy na Oos-Kaapse leerlinge wat na die Wes-Kaap stroom vir ‘n beter opvoeding as “vlugtelinge” verwys het.

“Die ANC is reg bewys deur die stelling wat Helen Zille gemaak het,” het Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, gesê. “Dit is tipies van die destydse apartheidregering se mentaliteit wat maatreëls in plek gestel het om swart mense daarvan te weerhou om na die sogenaamde wit gebiede te beweeg.” Zille se opmerking het verwys na die afgelope dae se protesoptogte in Grabouw oor swak onderwys en oorvol skole. Zille se twiet het gelui: “Terwyl Oos-Kaapse opvoeding ineenstort, het die Wes-Kaap 30 skole gebou vir hoofsaaklik vir Oos-Kaap opleidingsvlugtelinge.” Talle mense op Twitter het aanstoot geneem oor Zille se gebruik van die woord “vlugtelinge.” Zille het haarself egter gedurende die dag verdedig. Die ANC se leier in die Wes-Kaap, Marius Fransman, het tydens ʼn Menseregte-byeenkoms in Grabouw gesê: “Helen Zille se vuil rasse-onderrok hang uit oor die opmerking wat sy gemaak het oor Oos-Kaapse vlugtelinge. Die keiser staan naak in haar vooroordeel.” Mthembu het gesê: “Zille se rassistiese stelling bewys die DA se beleid van uitsluiting van swartes. Sy sal nooit dieselfde ding sê oor wittes wat van ‘n ander gebied in die land na die Wes-Kaap trek, of selfs mense wat van ander lande na die Wes-Kaap trek nie. Om Suid-Afrikaners wat vrye beweging in hul eie land het as vlugtelinge te beskryf, is dieselfde as om hulle as buitelanders te bestempel,” het Mthembu gesê. Toe sy Dinsdag deur ‘n Twitter-gebruiker gevra is om ‘n “vlugteling” te definieer, het Zille geantwoord: “Vlugtelinge is mense wat moet ontsnap omdat hulle regte geskend word. Dit beskryf Oos-Kaapse leerlinge presies.” Mthembu het gesê die DA beskou swartes as nuttige kiesers om verkiesings mee te wen en niks anders nie. “Ons doen ‘n beroep op alle swart DA-lede om die DA te sien vir wat dit is – ‘n wit, rassistiese party,” het hy gesê. “Ons doen ook ‘n beroep op al daardie swartes wat in die leierskapstrukture van die DA is vir uiterlike vertoon om uit die DA te bedank.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.