ANC-eeufees: 2 wat glo laserstraal na helikopter wys, verskyn in hof

Twee mans het Maandag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn nadat hulle glo ʼn groen laserstraal na helikopters gewys het wat van twee lughawens in Bloemfontein opgestyg het.

Theunis le Grange (45) en Albertus Niewoudt (21) is elk op borgtog van R500 vrygelaat, het kol. Vishnu Naidoo, woordvoerder vir die polisie, gesê. Die saak is tot 24 Januarie uitgestel. Die saak teen ʼn 14-jarige seun is teruggetrek. Hy sal berading ontvang en sal deur maatskaplike werkers dopgehou word. Die twee mans is aangekla dat hulle lugvaartwette oortree het. Die drie is in hegtenis geneem ná hulle glo ʼn laserstraal na helikopters gewys het wat Saterdagaand onderskeidelik by Bloemfontein-lughawe en Bloemspruit-lugmagbasis opgestyg het. Naidoo sê die lasers kan vlieëniers verblind of verwar wat daartoe kan lei dat die vliegtuig neerstort. Luidens die Wet op Burgerlike Lugvaart is enige persoon wat opsetlik enigiets doen om ʼn vliegtuig in gevaar te stel, skuldig aan ʼn oortreding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.