ANC-eeufees: Bul word geoffer

'n Man hardloop weg voor 'n bul wat by die ANC se eeufeesvieringe geslag is. Foto: Siphiwe Sibeko, Reuters

President Jacob Zuma het glo ʼn simboliese bul-offer uitgebeeld buite Waaihoek Wesleyaanse kerk in Bloemfontein as deel van die reinigingseremonie op die vooraand van die ANC se eeufeesvieringe.

Veteraan-ANC-LP, Andrew Mlangeni, het ʼn spies aan Zuma oorhandig waarna Zuma toe die simboliese ritueel in ʼn tydelike kraal naby die kerkgebou uitgevoer het. Hy het gesê die “jonges” sal die slagting prakties uitvoer. “Van die belangrikste stellings wat ek voor die ritueel gemaak het, het oor die waarde van die spies gehandel. Die spies was een van die magtigste wapens wat ons in die weerstandsoorloë gebruik het,” het Zuma gesê. “Dit is baie simbolies weens die struggle. Die apartheidsregering het met geweld reageer, deur mense te verbrand, mense in hegtenis te neem, en uiteindelik om organisasies – veral die PAC en die ANC – te verban.”

Zuma het toe vertel hoe die voormalige ANC-leier, Albert Luthuli, die ANC se militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe (Spies van die Volk) geskep het om hulself te verdedig. “Luthuli het gesê dat jy, as ʼn Afrika-man, ʼn magtige vyand in die oë staar… jy onttrek dan na jou eie huis, waar ʼn spies is, en dit is jou laaste wapen. En wanneer hy jou na jou huis volg, word jy met geen ander opsie gelaat behalwe om die spies op te tel en hom te steek nie. Dit is baie simbolies dat die spies vandag weer aan ons oorhandig word. Vandag is die spies nie ʼn teken om uit te gaan en te gaan baklei nie, maar dit is om die vrede te behou en die volk te beskerm,” het hy gesê.

Volgens Zuma was die ritueel ook ʼn manier om met die voorvaders en God in ʼn “tradisionele” manier te praat. Hy het gesê dit was ook simbolies dat die ritueel by ʼn kerkgebou, waar die ANC in 1912 gestig is, plaasvind. “Ons moes sekere rituele uitvoer voordat ons by die ernstige sake van die feesvieringe uitkom,” het hy gesê.

President Zuma en Amerikaanse burgerregte-aktivis Jesse Jackson by die ANC se eeufeesvieringe. Foto: Siphiwe Sibeko, Reuters

Jesse Jackson, Amerikaanse burgerregte-aktivis, wat ook die feesvieringe bywoon het glo gesê: “Ons moet erken dat die ANC en die mense van Suid-Afrika ʼn groot oorwinning behaal het. Hulle het die groot onderdrukking van apartheid oorwin, maar dit is so dat apartheid steeds in die ekonomie en landbou voortbestaan. Amerika en Suid-Afrika het apartheid saam tot ʼn val gebring en beide het nou Afrika-presidente.”

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het gesê die seremonie bied lede en tradisionele leiers die geleentheid om die feestelikheide te geniet soos wat hulle wil. “Tradisioneel het ʼn offer verskeie betekenisse gedra. Alle volke het ʼn manier om fees te vier deur ʼn offering… dit is telkens dieselfde maar in verskillende omstandighede.”

Tradisionele en godsdienstige leiers het die reinigingseremonie Vrydagaand buite die kerkgebou bygewoon. Die inter-geloof diens wat boodskappe en seënwense van verteenwoordigers van die Christelike, Moslem, Rastafariër en tradisionele Afrika-gelowe ingesluit het, is in ʼn markiestent buite die kerkgebou gehou.

Die fees word onder andere bygewoon deur Richard Baloyi, minister van tradisionele sake, Mathole Motshekga, hoofsweep van die ANC en Baleka Mbete, voorsitter van die ANC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.