ANC erken Nkandla-onreëlmatighede; waarsku kommentators

Zuma-Nkandla-550

Nkandla

ʼn Groep ministers het Vrydag met Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, vergader oor haar voorlopige verslag oor Nkandla wat na bewering uitgelek het.

“Adv. Madonsela het in die vergadering onderneem om die behoorlike prosedure in die hantering van hierdie tipe verslae te volg,” het Phumla Williams, waarnemende hoof uitvoerende beampte van die regering se kommunikasiediens (GCIS), gesê. “Die groep wil die integriteit van die regering se eie ondersoek oor die sekuriteitsopgraderings by Nkandla benadruk. Die ondersoek het onder andere bevind dat geen staatsgeld aangewend is om pres. Jacob Zuma se privaathuise by Nkandla te verbeter nie.”

Die Mail & Guardian het Vrydag berig dat Zuma persoonlik voordeel getrek het uit die multimiljoenrandse opgraderings by Nkandla.

Die regering voer aan dat die opgraderings noodsaaklik was vir Zuma se sekuriteit, maar Madonsela het glo bevind dat ʼn swembad, besoekersentrum, amfiteater, ʼn kraal, markiestentterrein, plaveisel en nuwe huise vir familielede ook deel uitgemaak het van die opgraderings teen ʼn “enorme koste” vir belastingbetalers.

Madonsela het glo voorgestel dat die president aanspreeklik gehou moet word deur die parlement dat hy die uitvoerende etiek op twee aanklagte oortree het: dat hy nie staatshulpbronne beskerm het nie en dat hy die parlement mislei het deur voor te gee dat hy en sy familie vir alle nie-sekuriteitsverwante opgraderings betaal het.

Madonsela se woordvoerder, Kgalalelo Masibi, het gesê dit is oneties en onwettig om die Openbare Beskermer se voorlopige verslae te publiseer. “Dit oortree artikel 7(2) van die Wet op die Openbare Beskermer 23 van 1994,” het Masibi in ʼn verklaring gesê. “Ons lewer nie gewoonlik kommentaar op enigiets wat voorgee om ʼn voorlopige verslag van die OB te wees nie, aangesien dit nie OB-verslae is nie.”

Williams sê die regering hou by sy siening dat, alhoewel die sekuriteitsopgraderings geregverdig is, was die manier waarop die departement van openbare werke die saak hanteer het, onbehoorlik. “Die ondersoek deur die regering het bevind dat daar ʼn aantal onreëlmatighede was in die aanstelling van diensverskaffers en die aanskaffing van goedere en dienste.”

Die ANC het Vrydag versoek dat die publiek selfbeheersing sal toepas en versigtig sal wees totdat die Openbare Beskermer haar verslag bekend gemaak het. “Wat tot dusver gepubliseer is, is nie bewys dat dit die verslag is nie, en dit is ook nog nie deur die kantoor van die OB geverifieer nie,” het Jackson Mthembu, woordvoerder van die ANC, in ʼn verklaring gesê.

Mthembu doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners, veral diegene wat kommentaar lewer op die storie, om selfbeheersing toe te pas totdat die OB haar verslag vrygestel het. “Versuim om hieraan te voldoen sal die proses bevooroordeel soos die OB en alle ander betrokke belanghebbendes gestipuleer het.”

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV) het versoek dat Zuma bedank en dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) klagtes van korrupsie teen Zuma aanhangig sal maak.

Die United Democratic Movement het ʼn parallelle ondersoek oor Nkandla versoek. “Die UDM is van mening dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Valke vertroud moet raak met die dinamika van die Nkandla-sage, sodat ʼn parallelle ondersoek kan plaasvind terwyl die regering nog redekawel oor die verslag deur die OB,” het Bantu Holomisa, leier van die UDM, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan Viljoen ·

In enige beskaade ontwikkelende land sou iemand van die regering, wat alles gedoen het wat Zuma en van die ander ministers al gedoen het, asook al die leuens wat hulle al verkondig het, in die tronk beland het. Hier word n nasie gestraf omdat hulle te onnosel is om te sien wat aangaan en nog altyd vir n terroristiese organisasie stem.

Sarie van Niekerk ·

Dit het regtig tyd geword dat daar nou teen Zuma en al die ander wat nog die heeltyd namens hom lieg en bedrieg en laer rondom getrek word,almal in ‘n staat van beskuldiging geplaas word. Dit het tyd geword dat al die vorige sake, die wapenskandaal en die sogenaamde spy tapes, ook nou afgehande word. Dit het tyd geword dat Zuma wys hy het darem nog ‘n tikkie waardigheid in hom en hy en sy span spy tapes, waarvoor daar al drie hofbevele is, aan die DA oorhandig sodat ons nou almal kan sien hoekom daar destyds besluit is om nie met die vervolging teen hom voort te gaan nie en moet nie vir my se dit is terwille van die president se veiligheid nie, want hy was nog nie president gewees nie. Ek wil ook graag weet wat al die genoemde dinge en dan is daar nog sokkerveld ook, met die president se veiligheid te doen het, maar voortvlugtende misdadigers word skaamteloos in die presidensie toegelaat vir ‘n onderhoud met die president en as die media dit dan uitwys, dan word die persoon soos blits gedeporteer en dit nadat hy reeds jare lank onwettig in die land woon waar hy mt ‘n vervalste paspoort die land binnegekom het. Zuma en almal wat so laer trek om hom is ‘n verleentheid vir ons land. Hierdie is selfs baie, baie groter as die destydse inligtingskandaal.

Jasper ·

Daar moet n manier gevind word om druk op hom te plaas sodat hy bedank. Ek weet net nie wie nie. “The Sheeple” volg hom blindelings

henk celliers ·

Die bl- – s- m-,dis n rowersnes,wag maar,geregtigheid sal seefier

Frederick J Smith ·

Hierdie voorval is skokkend! Volg ons nou die Zimbabwiese werkwyse waar die president ten alle koste beskerm word en basies “onaantasbaar is?”…..WAT NOG ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.