ANC erken skade van struggle-liedjies

Julius Malema

Die ANC, Julius Malema, AfriForum en TLU SA het Woensdag ʼn historiese skikkingsooreenkoms in die Malema-haatspraaksaak onderteken, waarin die ANC en Malema erken dat sekere woorde in sekere struggle-liedjies as kwetsend beskou kan word.

Hulle het onderneem om hulle ondersteuners te oorreed en aan te moedig om hulle van kwetsende optrede te weerhou. Die hoogste hof van appèl in Bloemfontein sal Donderdag genader word om die skikkingsooreenkoms ʼn hofbevel te maak.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dié organisasie baie tevrede met die ooreenkoms wat bereik is. “AfriForum se optrede was van die begin af daarop gemik om te verhoed dat kwetsende liedjies oor Afrikaners gesing word. Hierdie ooreenkoms, waarin die ANC homself in ʼn hofbevel gaan verbind om die gebruik van kwetsende woorde in liedjies te vermy, is presies wat AfriForum wou bereik,” het Kriel gesê. Volgens Kriel beteken dié ooreenkoms dat die lang pad wat AfriForum en TLU SA met regsprosesse in die howe moes volg om uiteindelik by ʼn sinvolle ooreenkoms uit te kom, beslis die moeite werd was.

Kriel het daarop gewys dat die ooreenkoms van historiese belang is, aangesien dit die eerste keer sedert 1994 is dat die ANC en instellings vanuit minderheidsgemeenskappe skriftelik ʼn politieke ooreenkoms aangaan rakende aangeleenthede wat minderhede ten nouste raak.

Die ooreenkoms behels onder meer dat die:
• ANC en Malema erken dat sekere woorde in sekere struggle-liedjies as kwetsend en skadelik deur lede van minderheidsgemeenskappe ervaar kan word;
• ANC en Malema onderneem om hulle onderskeie ondersteuners en leierskap aan te raai en aan te moedig om met selfbeheersing op te tree om die ervaring van sulke kwetsing te vermy;
• partye ooreengekom het dat dit van kritiese belang is om wedersydse erkenning en respek te toon vir die reg van alle gemeenskappe om hulle kulturele erfenis en vryheid te vier en te beskerm; en
• partye hulle verbind het tot ʼn voortgesette formele dialoog tussen die leiers van die ANC, AfriForum, TLU SA en ander belanghebbendes om wedersydse begrip vir hulle onderskeie kulturele erfenisse en aspirasies te bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

hannes petzer ·

wel beter gese as gedaan maar malema steur hom nie aan wette nie hy sal dit weer en weer doen solank hy kan malema is n blanke vel hater en sal altyd so wees en geen hof kan hom vermaan om sy woorde te tel nie want hy is die wet of so dink hy

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.