ANC: Gupta-debat gaan nie oor Zuma

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Moloto Mothapo, hoofsweep van die ANC, het die DA Sondag daarvan beskuldig dat hulle president Jacob Zuma die hooffokus wil maak van die opkomende parlementêre debat oor die Gupta-familie se gebruik van die Waterkloof-lugmagbasis.

“[Die DA] wil die onderwerp as ʼn rookskerm gebruik om sy obsessiewe vendetta teen president Zuma na te streef,” het Mothapo gesê. “Dit is duidelik dat die parlement in sy grondwetlike verantwoordelikheid sou gefaal het as hierdie belangrike debat tot ‘n boendoehof verminder is.” Mothapo het die DA se versoek dat Zuma die debat moet bywoon van die hand gewys en gesê die onderwerp is nie die president nie maar die gebruik van die millitêre lughawe. Mothapo sê Zuma is nie ʼn lid van die parlement nie en kan dit nie verwag word dat hy die debat moet bywoon nie. Hy sê dit sal “uiters belaglik” wees vir Zuma om rekenskap te gee oor ʼn saak wat steeds ondersoek word.

Die ANC het vroeër die week ingestem tot ʼn debat oor die kwessie aangesien die parlement ʼn verantwoordelikheid het om te besin oor die saak. “Ons kan nie toelaat dat daar ʼn situasie is waar ons grensposte en nasionale sleutelpunte ongestraf binnegedring word nie.” Die debat is geskeduleer om van 4 tot 7 Junie plaas te vind. Die DA het Sondag versoek dat Thuli Madonsela, die openbare beskermer, die omstredenheid rondom die Gupta-familie se gebruik van die Waterkloof-lugmagbasis moet ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Die Hoofsweep van die ANC slaan die bal vêr mis as hy dink die DA verlaag die status van die parlement tot ‘n boendoehof. Sy tirade teen die DA is slegs handige woordspeling om die aandag af te trek van die groot rol wat die Gupta’s gespeel het in die besluit van die ANC-regering om die Waterkloof-lubmagbasis beskikbaar te stel aan die Gupta-vliegtuig om te land. En alhoewel Zuma dalk nie direk so ‘n opdrag gegee het nie, sou enige ondergeskikte in die ANC-regering nie sommer ‘n versoek vir landing op Waterkloof geweier het nie. Almal is maar te gewillig om Zuma te behaag. Dis die agtergrond van die ganse Waterkloof/Gupta/Zuma-drama.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.