ANC-hoë moet Kebble-geld terugbetaal

Brett Kebble

Brett Kebble

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het ʼn ANC-hoë beveel om meer as R350 000 aan die boedel van Brett Kebble te betaal, het The Times Woensdag berig.

Die hof het Songezo Mjongile, sekretaris van die ANC in die Wes-Kaap, aangesê om die bedrag oor te betaal wat hy van mynmagnaat Kebble ontvang het. Hy moet R215 000 terugbetaal wat hy tussen November 2004 en Februarie 2005 ontvang het, maande voordat Kebble gesterf het.

Mjongile moet ook R142 000 aan die Kebble Buitenbag-beleggingstrust terugbetaal.

Kebble se boedel is maande ná sy dood in 2005 gesekwestreer. Die trust is in 2007 gesekwestreer.

Volgens die berig het Bantu Nduna, ʼn trustee van Kebble se insolvente boedel, gesê die geld, wat aan Mjongile oorbetaal is, was ʼn “donasie” en daarom kan die boedel dit terugeis. Mjongile het dit ontken. “Die geld was vir werk wat ek gedoen het. Ek hou niks van hierdie indruk dat ons passiewe ontvangers was van Kebble se geld nie,” het hy gesê. “Ons was besigheidsvennote. Hierdie kwessie is buite orde. Ons het waarde vir hulle [die Kebble-boedel] geskep. Ons is sakemense, nie sommer enige nie-regeringsorganisasie nie.”

Mjongile was glo ʼn draer by Kebble se begrafnis.
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.