ANC-jeugliga help SA Vrouefederasie-tehuis

Lede van die ANC-jeugliga het Woensdag, as deel van hul bydrae tot Mandela-dag, vrywillig by ‘n tehuis, wat deur die SA Vrouefederasie (SAVF) bestuur word, gaan werk.

Die lede het dit gedoen as deel van hul bydrae om voormalige president Nelson Mandela se verjaarsdag te vier. “Daar was baie mense,” het Suzette Oosthuizen, streeksbestuurder van die SAVF, gesê. Sy sê die liga het die ouetehuis in Khutsong aan die Wes-Rand besoek om in die groentetuin te help, berig SowetanLIVE. Die inwoners het, weens hul hoë ouderdom, glo gesukkel om dié tuin gevestig te kry. Die inwoners het glo die jongmense se geselskap geniet. “Ons moet dit meer doen,” het Oosthuizen gesê. Sy het haar hoop uitgespreek dat iemand ‘n jaarlange verbintenis sal maak om te help.

“Soveel soos wat ons van ekonomiese vryheid praat, verstaan ons dat die sleutelkomponente daarvan is om mense oor die algemeen te help, veral bejaardes,” het Khusela Sangoni-Khawe, woordvoerder vir die jeugliga, gesê. Dit was glo irrelevant dat dié welsynsorganisasie deur Afrikaners bestuur word. “Ek dink nie die verdeeldheid in ons samelewing is van só aard dat ons moet vergeet dat ons een volk is nie,” het sy gesê.

Mense word jaarliks aangemoedig om op Mandela se verjaarsdag 67 minute van hul tyd op te offer om een of ander gemeenskapsdiens te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.