ANC: ‘Jeugliga het die reg om ‘n optog te hou’

Die ANC het Woensdag gesê dat hy die reg van sy jeugliga om ʼn optog te hou vir ‘ekonomiese vryheid’ ondersteun.

Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het aan verslaggewers in Pretoria gesê dat die jeugliga, soos enige ander organisasie in die land, die reg het om ʼn optog te hou. “Die jeugliga het ons verseker dat hulle beheer sal uitoefen en streng sal optree teen enige iemand wat probeer om die optog te ontwrig”. Die ANC het Maandag met sy jeugliga vergader om kwessies rakende Donderdag en Vrydag se beplande massa-optogte te bespreek. Matashe sê die leiers van die jeugliga neem volle verantwoordelikheid vir die optog en enige gevolge wat daarvan kan kom. Hy sê hy is oortuig daarvan dat die optog nie teen die ANC-regering is nie en dat dit ook nie verband hou met die party se verkiesingskonferensie in 2012 nie. Mantashe sê die ANC stem saam met die jeugliga rakende die maatskaplike en ekonomiese kwessies wat hy geopper het. Die jeugliga sal Donderdag ʼn optog in Johannesburg hou van Beyers Naude-plein na die Kamer van Mynwese na die Aandelebeurs en dan na Pretoria. Die jeugliga sal Vrydagoggend by die Uniegebou ʼn memorandum aan die presidensie oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.