ANC-jeugliga: Nie jammer oor uitsprake

Ronald Lamola. Foto: Times Live

Ronald Lamola, die adjunkpresident van die ANC-jeugliga, het Vrydag aan AfriForum Jeug gesê hy weier om verskoning te vra vir sy onlangse uitsprake oor boere se veiligheid. Hy het ook aangedui dat hy nie van voorneme is om hierdie uitsprake te staak nie.

Lamola het onlangs tydens ’n lesing oor “ekonomiese vryheid” by die Durbanse Universiteit van Tegnologie jongmense aangemoedig om grond met geweld te neem. Hy het ook vroeër tydens ʼn perskonferensie te kenne gegee dat die jeugliga nie “die Van Tonders en die Van Der Merwes se veiligheid kan waarborg” wanneer die jeug ongeduldig raak en hulle grond van wit eienaars terugneem nie.

In reaksie hierop het AfriForum Jeug aangedui dat dié organisasie nou met ʼn klag van haatspraak in die gelykheidshof teen Lamola sal voortgaan. ʼn Kriminele klag van intimidasie en aanhitsing tot geweld is ook reeds ingedien.

Hierdie verwikkeling het Vrydag tydens ʼn gesprek tussen die leierskap van die twee jeugbewegings by die ANC se hoofkwartiere, Luthuli-huis, plaasgevind.

AfriForum Jeug het aan die ANC-jeugliga gesê dat hul standpunte oor grondhervorming op ʼn growwe wanvoorstelling van die geskiedenis gebaseer is en dat die debat verskuif moet word na een waarin die waarheid oor die geskiedenis van grond gesoek word voordat standpunte oor grondhervorming ingeneem word.

AfriForum Jeug het ook Engelse eksemplare van die boek, Treurgrond, aan die ANC-jeugliga oorhandig. Dié boek bevat besonderhede oor 1 445 boere wat oor die afgelope 20 jaar op plase vermoor is.

ʼn Boer van Limpopo is Woensdag vermoor. Sy seun blameer die ANC-jeugliga se uitsprake oor grondhervorming hiervoor. Klik hier om die storie te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.